Winskopies: Loop lig vir verborge defekte
Heersende toestande in die eiendomsmark lei tot bemarking van sub-standaard eiendomme aangesien verkopers onder druk is om van onwyse beleggings ontslae te raak terwyl sommige eienaars nie meer die finansiële pyp kan rook nie.
Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep, sê hoewel die mark nou ware geleenthede vir beleggers inhou, moet kopers ligloop vir sub-standaard eiendomme.
“In ‘n klassieke kopersmark, soos nou die geval is, kan beleggers inderwaarheid kieskeurig wees en goeie winste realiseer wanneer die mark draai.
“Maar terwyl sommige kopers nie hulle huise vir bemarking voorberei nie omdat hulle onder geldelike druk is – en dit wys – probeer ‘n klein persentasie klaarblyklik om defekte met ‘n lagie verf te verbloem.
“Die gevaar is dus dat kopers wat geleenthede sien om goeie winste in die toekoms te realiseer met ‘n ‘opknapper se droom’ opgeskeep kan sit – wat die moontlike winste van wat andersinds ‘n stewige medium-termyn eiendomsbelegging sou wees kan beperk.”
Hy wys daarop dat beleggers daarop moet let dat die voetstoots klousule waarmee die meeste Suid-Afrikaners vertroud is en wat beteken dat ‘n eiendom sonder voorbehoud verkoop word, nie op kopers afdwingbaar is nie en inderdaad uit ‘n verkoopsooreenkoms gelaat kan word.
“Die voetstoots klousule word normaalweg gebruik as ‘n verweer deur die verkoper indien ‘n defek in die eiendom na sluiting van die transaskie ontdek word en die nuwe eienaar moet kan bewys dat die defek met opset verbloem of verswyg is.
“Hoewel daar fundamenteel niks met die voetstoots klousule skort nie, plaas dit nogtans die las op ‘n koper wat dit aanvaar om seker te maak dat die eiendom in ‘n goeie toestand is en, indien nie, dat alle defekte verklaar word en dat die prys dienooreenkomstig aangepas word.
“Maar indien die eiendom verkoop word teen ‘n prys wat nie verskuilde defekte in ag neem nie, bestaan die moontlikheid dat die koper te veel betaal. Die oplossing is om ‘n onafhanklike inspeksie van die eiendom te laat doen en om nie net op die bankinspekteur se verslag te steun nie omdat dit tipies net op geldelike oorwegings gegrond word as deel van die verbandaansoekproses.”