Verbandkonsultante bied waarde in moeilike mark
Verbandkonsultasie is ‘n nuttige hulpmiddel vir eiendomsverbruikers in die heersende mark waar krediet moeiliker bekombaar is.
Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep, sê ‘verbandbeplanning’ speel nou ‘n sleutelrol in eiendomsaankope – en verbandkonsultante, wat gespesialiseerde dienste kan bied en kopers en verbandleners bymekaar kan bring, kan ‘n belangrike rol in dié proses speel.
“Verbandkonsultante se nis in die mark het deels ontwikkel danksy die groter verskeidenheid wat die afgelope paar jaar ‘n verskyning in die mark gemaak het. In die verlede was daar ‘n basiese verbandproduk vir alle soorte transaksies, maar dis nie meer die geval nie. Vandag word die koper se profiel in ag geneem, met ander woorde daar word verskille getref tussen byvoorbeeld iemand wat vir die eerste keer ‘n eiendom koop teenoor ‘n afgetrede huiskoper.
“Die Nasionale Kredietwet is nog ‘n rede waarom verbandkonsultante geraadpleeg behoort te word en een van die faktore wat in dié opsig in ag geneem moet word, is die lewensduur van die verband waarvoor aansoek gedoen word.”
Hy noem dat ‘n verband tipies oor 20 jaar terugbetaal word maar dat verbandtydperke van tot 30 jaar nou toegelaat word. “Dit sal meebring dat die maandelikse koste laer sal wees maar dat die algehele skuldlas oor die langer termyn veel groter sal wees.
“Ander koste wat met huiskoop verband hou, soos oordragkoste en verbandregistrasie, moet ook in gedagte gehou word – baie kopers moet sulke koste by die bedrag wat geleen word, insluit.
Kotzé sê kopers moet onthou dat banke nie meer te gretig is om die transaksie kostes, insluitend oordragbelasting, verbandregistrasie en oordragkoste, by die geleende bedrag bytevoeg nie – en selfs dalk nou van die koper kan verwag om ‘n aansienlike deposito op die koopprys te betaal.”
‘In so ‘n geval speel die verbandkonsultant ‘n selfs groter rol om die aansoeker se aansoek vir ‘n verband doeltreffend voor te berei.
“In eenvoudige taal beteken dit dat die konsultant se taak is om die beste produk vir ‘n gegewe koper te vind – en in in dié opsig is hulle grondige bedrip van verbandprodukte van onskatbare waarde.”