Sport

Thabazimbi Gholfnuus

THABAZIMBI – Die manne wat die beste gevaar het met verlede Saterdag se Slagspel by die Thabazimbi Gholfklub was Jakkie van der Wateren (70), Bernie Gous (72), Johan Barnard (73) en Pietie Terblanche (74).  Die dames het ook goed gedoen met hulle liga en wen hulle afdeling. Alhoewel ons klub by Gauteng-Noord geaffilieer is speel hulle nog in Limpopo.
Die Sages was bevoorreg om verlede Donderdag op die Euphoria gholfbaan te kon speel. Dit was ‘n besondere ervaring. Alles daar getuig van gehalte. Dis die eerste keer dat ek na nege putjies met die aankoms by die halfweghuis ‘n warm handoekie kry om hande en gesig mee af te vee. Na die halfweg was die karretjie ook weer reg getrek en my gholfhandoekie nat gemaak. Die baan, hele dag se diens en die vriendelikheid van die personeel was van die hoogste gehalte.
Volgende Saterdag speel Thaba se manne op Naboomspruit liga teen Lost City. Thabazimbi se span het tot hiertoe baie goed gevaar en daar word gehoop dat hulle die goeie spel kan voortsit. Tuis word daar Bonus Syferspel (Bogey) speel.  Saterdag 26 Julie bied die dames ‘n damesborgdag aan. Daar sal egter ook plek vir ‘n paar manne wees.
Die finansiële jaar het op 30 Junie geëindig en spelers wat hulle ledegeld voor die einde September betaal gaan die verhoogde tariewe vryspring.
Nubar Gulbenkian het by geleentheid die volgende wysheid kwyt geraak: “I find it more satisfying to be a bad player at golf. The worse you play, the better you remember the occasional good shot.”