General

Swart springbokke by wildveiling

HOEDSPRUIT – Die hoogtepunt van vanjaar se jaarlikse Hoedspruit Wildveiling was  die verkope van swart Hartwater springbokke teen R17 000 stuk.
Hierdie prys is ‘n Suid-Afrikaanse rekord vir swart Hartwater springbokke. Die veiling op 11 Julie het saamgeval met die Wildsfees op Hoedspruit. Die totale omset was R1 941 000.
Altesaam 57 diere was op die veiling vertoon en verkoop. In die familiegroepe is  blouwildebeeste teen R1 600 elk verkoop, bosbokke teen R4 950 elk, grysduikers teen R1 750 elk, koedoes teen R1 900 elk en sebras teen R4 934 gemiddeld elk (g.e.) verkoop.
Die manlike diere wat verkoop was, is bosbokke teen R5 000 elk, een onvolwasse koedoebul teen R3 250, twee njalas teen R9 000 elk en vyf waterbokbulle teen R6 800 g.e. met ‘n hoogste prys van R8 000 wat betaal is.
Altesaam 110 diere is per katalogus verkoop. Meestal familiegroepe is op hierdie manier verkoop. Vyf basterhartbeeste is verkoop teen R14 000 elk, blouwildebeeste teen R1 600 elk, bosbokke teen R3 800 elk, skoon buffels teen R135 000 elk, Livingstone elande teen R16 000 elk, Hartwater springbokke teen R6 100 elk en vyf swart Hartwater springbokke teen R17 000 elk. Koedoes het verkoop teen R1 800 elk, njalas teen R5 000 elk, rooi hartebeeste teen R3 075 g.e. (hoogste prys R3 300), vlakvarke teen R400 elk, ‘n witrenosterkoei teen R330 000 en ‘n witrenostervers teen R200 000.
Slegs drie manlike diere is per katalogus verkoop. Twee hartbeesbulle is verkoop teen R14 000 elk en een kameelperdbul teen R6 000.
Die afslaer was Willie Roux van Vleissentraal Bosveld.