Sport hou leerlinge op hul tone
THABAZIMBI- Leerlinge van Laerskool Thabazimbi het die afgelope vakansie aan verskeie sportsoorte deelgeneem. Michelle Smit het haar Nasionale Kleure vir stoei verwerf in die 37-40 kg afdeling. Tienie Smit behaal ‘n 10de plek in dieselfde kompetisie.
Super 12 krieket is te Rustenburg vanaf 22 tot 26 Julie aangebied. Die 0/11 span het deelgeneem teen spanne van 16 ander skole. Hier het Stefan Joubert uitgeblink met die kolf deur 84 lopies aan te teken in 4 wedstryde. Hansie van Staden en Steven Clarke neem elk 6 paaltjies ook in 4 wedstryde.
Net een leerling, Ronel Roux, het die skool op die netbalveld verteenwoordig. Sy is gedurende die 2de kwartaal vir die 0/12 Limpopo Netbalspan gekies. Die span het van 3 tot 5 Julie aan die SA Satelliet Netbalspele te Polokwane deelgeneem. Die span het teen verskeie streke deelgeneem naamlik Gauteng, Mpumalanga en Noordwes om maar ‘n paar te noem. Hulle het uitstekend gevaar en eindig 6de in hulle afdeling.
Die rugbyspanne was net so besig. Die Bokkie week is ook gedurende die vakansie te Naboomspruit aangebied. Hier is Conré van Rensburg gekies vir die bosveldspan.
Pieter Ferreira en Rudolph Human het vir die Verre Noord span gespeel. Marco Engelbrecht en Bantu Peter het aan die Cravenweek te Paarl deelgeneem. Albei die spelers is gekies vir die Limpopo Bloubulle wat hulle tydens die Cravenweek gaan verteenwoordig.
Die landloop atlete het op 21 Junie aan die interprovinsiale Landloopkompetisie te Potgietersrus deelgeneem. Die volgende atlete het goed presteer, Louise Schutte dogters 0/10 17de, Kyla Botes Dogters 0/10 33ste plek, Francois Buys seuns 0/10 26ste plek, Quinton Botes Seuns 0/13 33ste plek en Johana Schutte dogters 0/12 21ste.