Mnr en Mej Thabazimbi Skou Koning en Koningin
THABAZIMBI – Dis weer tyd vir alle voornemende Mnr en Mej Thabazimbi Skou deelnemers om gereed te maak vir die jaarlikse kroning tydens die Landbou- en Nywerheidskou. Vanjaar word die kroningsplegtigheid aangebied deur Lianie May en Jaco Labuschagne en die tema is “Wille Bosveld”. Kom ons kyk hoe vindingryk die deelnemers kan wees met “wilde weste” uitrustings eie aan die Bosveld. So, almal wat belangstel, stof af daardie “cowboy” hoede, stewels en uitrustings en kom neem deel. Die organiseerders bedank Thabazimbi Spar wat weereens die hoofborg gaan wees tydens hierdie geleentheid.
Daar gaan gekompeteer word in vyf kategorieë, nl. Meisies 6 – 10 jaar, 11 – 15 jaar en 16 tot 24 jaar, terwyl die manne gaan kompiteer in twee afdelings, 6 – 15 jaar en 16 tot 24 jaar.
Die organiseerders het besluit dat die kompetisie nie ‘n model kompetisie gaan wees nie, maar eerder om te soek na ‘n persoon eie aan die Bosveld en iemand wat die titel Mnr. Skoukoning en Mej. Skoukoningin waardig sal wees, ‘n verteenwoordiger en ambassadeur vir die Bosveld. Onderhoude begin om 14:00 op Donderdag 31 Julie ‘08 om die deelnemers kans te gee om te gaan verklee vir die kroningsplegtigheid 18:00 dieselfde aand op die hoof verhoog. Deelnemers hoef nie tydens die onderhoude al volgens die “Wille Bosveld” tema aan te trek nie.
Hierdie kompetisie is oop vir alle ongetroude seuns en meisies ongeag hul ras, kleur of geloof. Alle inskrywings wat voor 14 Julie 2008 ontvang word sal gratis wees. Laat inskrywings beloop wel R50.00. Inskrywingsvorms is verkrygbaar by Thabazimbi Skoukantoor of Thabazimbi Spar.
Om ‘n bietjie meer swier aan die geleentheid te gee gaan ‘n paar van Thabazimbi se klere ontwerpers hulle uitrustings kom vertoon gedurende die kroningsplegtigheid. Met hierdie bonus modeparade slegs twee maande voor die matriekafskeide in die kontrei is dit gewis ‘n geleentheid wat nie deur die matrikulante gemis mag word nie. Dalk kry julle nog daardie spesiale uitrusting sommer hier in Thabazimbi vir jou matriekafskeid. Die ontwerpers belowe uitrustings vanaf lekker slenterdrag tot aandrokke en selfs ‘n paar trourokke.
Vir verdere navrae kan Ursula Roux gekontak word by 083 584 6061 of Thabazimbi Skoukantoor by 014 777 1204.