Laerskool Thabazimbi fondsinsameling groot sukses
THABAZIMBI – Die gebruiklike jaarlikse fondsinsamelingsprojek waartydens die leiers van die Laerskool fondse genereer vir hul jaareindfunksie, asook die geskenk aan hul skool, was ‘n reuse sukses. Hierdie jaar se aksie is met groot ywer deur ‘n span ouers en leerlinge aangepak en sal waarskynlik vir ‘n lang tyd nog onthou word.
Die gemeenskap is behoorlik aan die gons nadat die bekende internasionale spreker, Ivy Sutton, Vrydagaand haar bekende praatjie, ‘Geniet jou man’ gelewer het. Ivy wat onlangs genomineer is as Spreker van die jaar en net–net die eerste plek verbeur het, het behoorlik die gaste by die geleentheid op die punte van hul stoele gehad met haar unieke en humoristiese aanbieding. Dames wat die geleentheid bygewoon het, sal veral haar gedagte dat ons ons spesiale herinneringe moet koester, lank onthou.
Saterdagoggend se Ma & Dogter Tee was ‘n hoogtepunt. By die geleentheid het sy onder andere verwys na hoe belangrik dit is dat Mammas hul dogters sal ‘kroon’. Die reaksie was oorweldigend en die organiseerders word reeds oorval met navrae oor wanneer Ivy weer in Thabazimbi is.
Die organiseerders bedank die ouers en borge wat saamgewerk het om van die geleentheid so ‘n groot sukses te maak.
Goeie nuus is dat Ivy weer die 8ste November Thabazimbi besoek. Hierdie keer met die tema: ‘God is crazy about His gorgeous girls’.
Hou gerus die pers dop vir verdere besonderhede oor die geleentheid.