General

Help só keer dat brande versprei

THABAZIMBI – Grondeienaars of –huurders is wetlik verplig om die verspreiding van brande te help beheer deur die brand van brandstroke op die grense van hul eiendom.
Eienaars of groepe eienaars kan kwytgeskeld word van hierdie verpligting indien spesiale aansoek gedoen word by die Minister van Waterwese en Bosbou. Die Brandbeskermingsvereniging in ‘n gebied kan ook so ‘n aansoek bring, maar in Thabazimbi is nie vir kwytskelding aansoek gedoen nie en moet grondeienaars dus brandstroke maak.
Die vereiste vir ‘n brandstrook is dat dit skoon gebrand, geskoffel of geploeg moet wees of brandbare materiaal kan ook deur plantdoder verwyder word. Dit moet breed genoeg wees om redelikerwys te voorkom dat ‘n brand bo-oor die strook versprei. Plaaslike weers-, terrein- en plantegroeitoestande sal ‘n rol speel in die breedte van ‘n brandstrook. Die brandstrook moet “redelik vry” wees van brandbare materiaal wat ‘n veldbrand sal aanhelp.
Eienaars aan beide kante van die grens moet brandstroke maak, maar hulle is nie verplig om die brandstroke op die grens te maak nie. Eienaars van aangrensende grond kan instem om ‘n gemeenskaplike brandstrook weg van die grens tussen hulle eiendomme te maak.
Waar brandstroke gemaak word, vind die Wet op Veld- en Bosbrande voorrang bo wette wat plante mag beskerm. Eienaars is egter verplig om, “waar moontlik” beskermde plante oor te plant, of brandstroke so te posisioneer dat beskermde plante of bome vermy word.
In onherbergsame gedeeltes is dit dikwels moeilik om brandstroke te maak, maar hulp is beskikbaar in die vorm van ‘n groep genaamd Working-on-Fire. Working-on-Fire is ‘n werkskeppings- en armoede verligting-projek onder die beheer van die Departement van Omgewingsake en Toerisme wat van die Marakele Nasionale Park bestuur word. Vir verdere inligting hieroor kan Claire by Marakele geskakel word.
Die wet het heelwat voorskrifte oor wat moet gebeur voordat of op die dag wat gebrand word. Waar grond gebrand word aan die grens van ‘n buurplaas moet ‘n dag afgespreek word tussen buureienaars, of een eienaar moet ‘n ander 14 dae vooraf skriftelik kennis gee. Altwee eienaars kan op dieselfde dag brand, solank die toestande vir brand bevorderlik is. As slegs een eienaar brand, moet die ander teenwoordig wees of verteenwoordig wees. Die persoon wat brand moet genoeg mense aan sy kant van die grens hê om te help keer dat die brand versprei.
Brandstroke moet in stand gehou word en indien dit begin toegroei moet dit weer skoongemaak of gebrand word.