General

Grootste beesskou ooit

THABAZIMBI – Een van die grootste beesskoue ooit kan te siene wees tydens Thabazimbi se Landbouskou van 31 Julie tot 2 Augustus vanjaar.
Nie alleen word baie beeste verwag by die skou nie, maar ‘n groot verskeidenheid rasse sal te sien wees, waarvan party die eerste keer op Thabazimbi te sien sal wees.
Rasse wat vanjaar vertoon sal word, is die bekende rooi en wit Brahmane met hul groot skowwe en lang ore, die rooi en wit gevlekte Simmentalers, rooi Afrikaners, Santas, dikboud Limousins en gevlekte Simbras. Rasse wat vir die eerste vertoon sal word, is, onder andere, die geelwit Hugenote en die reuse Romagnolia uit Europa.
Ondanks duur brandstof en voer kom vertoners van so ver as Standerton en Villiers om beeste hier te vertoon. Dit op sigself is aanduidend van die standaard wat vanjaar hier verwag word. Die jaarlikse beesskou op Thabazimbi word geag as een van die grootste skoue in die land.
Die beoordeling begin reeds op Donderdag 31 Julie om 14:00 met die Brahmane se groepklasse. Op Vrydag 1 Augustus om 07:00 begin die individuele kompetisie in alle erns om die groot kampioene van elke ras te bepaal. Wanneer elke ras se kampioene bepaal is, gaan die stryd voort en word daar om die algehele interras kampioenskap meegeding. Verskeie nasionale kampioene sal hier hul titels verdedig.
Diegene wat belangstel om beeste te skou, hetsy dit in bogenoemde kategorieë of ander, kan die skoukantoor kontak by (014) 777 1204.