Vergadering oor tariewe gehou
THABAZIMBI – ‘n Gemeenskapsvergadering oor die hoë belastingtariewe word op Donderdag 7 Augustus in die Trollopesaal by die skougronde gehou om 14:00.
Die vergadering is geïnisieer deur die nuutgestigte Thabazimbi Voorsitters Forum, wat verteenwoordigers het uit die sakekamer, toerisme, landbou en eiendomsontwikkelingsveld.
Op 2 Julie het die Forum met die munisipale bestuurder en lede van die stadsraad vergader om te praat oor kwessies rakende die waardasierol en die buitensporige hoë belastingtariewe, asook die belastingkortings wat deur die munisipaliteit ingestel is.
‘n Onderneming is deur die stadsraad gegee dat die implementering van die munisipale belasting verder aandag sou kry en terugvoer sou verskaf word aan die Forum teen 7 Julie. Op 22 Julie is die Forum se voorsitter, Jan Viljoen, ingelig dat die stadsraad gaan bly by die belastingstariewe soos goedgekeur deur die raad en bereid is om die gevolge te dra. Die forum is besig met alternatiewe aksies en het die afgelope week vergader om dit te bespreek.
Die Forum doen ‘n beroep dat alle lede van die publiek die vergadering in die Trollopesaal bywoon en om die Forum te help bou tot ‘n volwaardige verteenwoordiger van die gemeenskap, ongeag politieke en rasse-voorkeure.
Vir verdere navrae kan die volgende persone gekontak word Liezie le Roux 082 893 4208, Riana Bekker 072 671 9710, Gys van der Walt 083 252 0368, Philip Nel 083 394 0140, Johan Muller 083 457 9423, Len Scott 083 770 1089, Butch Anley 083 281 2263 of Jan Viljoen 083 325 6057.