Entertainment

Uitdunne vir Boereworskompetisie begin

TAHABZIMBI – Sewendelaan-kykers het almal al kennis geneem van die Championship Boereworskompetisie waarvoor almal hulle so ywerig voorberei. Dis egter nie almal wat so traag is soos Paula om haar hande in die rouvleis in te druk of die derms te was nie, of wat op Maria staatmaak om die familieresep op Prieska te gaan haal nie.
Op Thabazimbi is die deelnemers reeds slaggereed vir die eerste uitdunningsrondte wat more, 26 Julie, hier by Shoprite aangebied word. Altesaam 22 streeksrondtes word dan regoor die land aangebied. Die gewilde Shoprite Checkers Championship Boereworskompetisie groei elke jaar in gewildheid en sowat 22% van die deelnemers is mense wat die vorige jaar ook ingeskryf het. In Limpopo was daar 62 inskrywings met Gauteng die meeste met 283 inskrywings.
Dinge begin reeds die oggend om 08:30 roer en die publiek word uitgenooi om deel te wees van hierdie wedywering van die boerewors-fundi’s om hul slag met boerewors te wys. Terwyl die heerlike geur van gebraaide boerewors die lug vul, gaan die bekende sanger, Andre Johnson vir heerlike vermaak sorg. Gelukkige trekkings waarin die publiek kan deel sal gedurende die aanbieding gehou word. Bring gerus die kinders saam want ‘n springkasteel sal sorg dat hulle aan die gang bly. Die medeborge is Coca Cola, Simba en All Gold.
‘n Onafhanklike paneel van beoordelaars sal tydens elke uitdunningsrondte, waar deelnemers een kilogram van hul wors moet braai, die wors in rou en gebraaide vorm beoordeel. Sekere streng riglyne aangaande die hoeveelheid vet, vleis en bestanddele geld om te kwalifiseer vir egte boerewors.
Die ander uitdunrondtes vind op 2, 16 en 23 Augustus by uitgesoekte Shoprite, Checkers en Checkers Hyper stores plaas. Wenners uit die tien streeksrondtes vir elke provinsie neem op Saterdag 13 September deel aan die provinsiale uitdunne en die wenner hiervan gaan deur na die finaal wat op Saterdag 4 Oktober by Sun City gehou word.
Die finale wenner van hierdie kompetisie stap nie net met groot pryse weg nie maar ook die eer van die Boereworskroon. Die wenresep Championship Boerewors sal vanaf 15 Oktober in alle Shoprite, Checkers en Checkers Hyper stores beskikbaar wees.
Kom kyk gerus wie is die spanne wat more hulle wors op die rooster gaan hê en geniet die vermaak wat daarmee saam aangebied word.