Sluit aan by Brandbeskermingsvereniging
THABAZIMBI – Dis gratis om aan te sluit by die plaaslike brandbeskermingsvereniging en kan van groot waarde wees in tye van krisis.
Tydens ‘n Veld en Vuur Indaba wat onlangs in Polokwane gehou is, is gepoog om alle belangegroepe wat ‘n rol speel in die bestryding van ongewenste brande in Limpopo byeen te kry. Die doel is ook om brandbeskermingsvereniging (FPA Fire Protection Associations) te bemagtig en die belangrike rol wat hul speel uit te lig. Hierdie FPA’s speel ‘n belangrike rol om skade te beperk wanneer wegholveldbrande ontstaan, veral waar dit waardevolle oeste bedreig.
‘n Werkgroep op vuur, Working-on-Fire, is deur die Department van Bosbou en Waterwese en Rampbestuur-owerheid in die lewe geroep. Working-on-Fire werksgroepe word tans deur die land ontplooi en help met werkverskaffing. Een is ook by Thabazimbi werksaam en werk vanaf die Marakele Nasionale Park. Die groep help met voorbrande en brandbestryding. Lede van die FPA kan goedkoper van Working-on-Fire se dienste gebruik maak. Vir verdere inligting oor Working-on-Fire kan Michelle Kleynhans by 078 272 9089 geskakel word.
‘n Inligtingstuk oor wat die wet sê oor brande en brandbestryding is deur die Brandbeskermingsvereniging van Thabazimbi saamgestel.
Daarvolgens bepaal die wet dat eienaars van grond wat moontlik kan brand (dit is feitlike alle eienaars) moet toerusting hê om brande te bestry. Dit word egter nie uitgespel watter toerusting verpligtend is nie. Dit moet toerusting wees wat redelikerwys in die omstandighede benodig sal word. Tans moet die grondeienaar besluit of hy wil belê in brandslaansakke, ‘n watertenk of waterpomp, solank dit effektiewelik vuur sal help bestry.
Die wet bepaal ook dat beskermende klere aan personeel verskaf moet word wat brande help bestry. Maar ook daaroor is die wet nie spesifiek nie. Die volle brandweeruitrusting (baadjie, helm, rookmaskers ens) baie duur en daar word waarskynlik nie verwag dat elke boer “’n brandweerbrigade moet toerus nie”.
Oor die aansteek van vure sê die wet dat dit ‘n misdryf is om ‘n vuur in die ope lug te verlaat voordat dit geblus is. Dis ook onwettig om ‘n vuur te begin wat kan versprei en skade en beserings aanrig, om in ‘n padreserwe ‘n vuur aan te steek (buiten die aangeduide plek vir ‘n brandstrook), of om te rook waar dit verbode is. Misdrywe soos hierdie strafbaar met ‘n boete en/of tronkstraf.
Vir verdere inligting oor die brandbeskermingsvereniging kan Herman Barnard by 014 772 2628 of 082 335 6441 geskakel word.