Seisoen vir Tuks swemmers begin – tot siens aan ‘coach’
THABAZIMBI – Helene Stevens, alom bekend as swem “coach” vir baie swemgeesdriftiges in Thabazimbi die afgelope 18 jaar, verlaat Thabazimbi om 600km noord in die Pafuri-omgewing by Tshikondeni te gaan woon. Haar dogter, Chantelle, neem by haar oor as swemafrigter.
Helene het in 1992 Thaba Swemklub op Thabazimbi gestig. Vir 15 jaar het sy swemmers by Thaba Swemklub en Laerskool Thabazimbi afgerig. Oor ‘n tydperk het die klub gegroei van 10 swemmers tot 56. Jaarliks was daar ‘n gemiddeld van 8 -10 van haar swemmers wat provinsiale kleure verwerf het.
As gevolg hiervan was sy wyd bekend in swemkringe en het kleiner skole in die omgewing ook swem as sport begin aanbied en swemmers ontwikkel vir kompetisies. Swem was ‘n sterk sport ook in Ellisras en Warmbad, wat sterk teenstanders was.
In 2004 het Helene die klub oorgegee aan Kobus van Rensburg, voormalige onderhoof by Laerskool Thabazimbi en ‘n nuwe klub begin met 10 uitgesoekte swemmers, onder die Tuks-vaandel. Hier het sy groot hoogtes bereik en die groep het tot 40 gegroei.
Die afgelope paar jaar het dit ‘n algemene gesig geword om swemmers so vroeg as 5-uur soggens te sien oefen, of om Helene in die bloedige hitte smiddae by die Kumba-swembad te sien afrig.
In die afgelope 8 jaar het sy ook Helene’s Swemskool bedryf, waar sy kleintjies van 3-jarige ouderdom (en ouer) op die “Learn to Swim”-program leer swem het.
Reeds vier jaar gelede het Helene haar dogter, Chantelle, self ‘n uitstekende en ervare swemmer, begin oplei om eendag die swemleisels by haar ma oor te neem.
Chantelle is tot vandag die enigste Thabazimbiër wat dit reggekry het om vir 10 jaar agtereenvolgend goud op provinsiale vlak te verwerf. Sy het ook aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir haar skool deelgeneem. Chantelle, wat veral uitblink in vlinderslag, het ook Noord-Transvaal, Noord-Wes en Limpopo kleure verwerf en het haar provinsie verteenwoordig sedert 1992.
Helene laat al haar swemmers nou in Chantelle se “bekwame hande” agter. Helene glo dat, omdat Chantelle self swem en weet hoe ‘n swemmer se kop werk, sy groot sukses sal behaal. Sy het reeds die afgelope 2 jaar die swemafrigting behartig by Helene’s Swemskool.
Op Maandag 4 Augustus om 14:30 begin die swemseisoen by die Kumba Swembad. Chantelle rig af onder die Tuks-vaandel. Vir enige navrae, skakel Helene by 072 599 9609.