Hengelkompetisie by die Konsentratordam
SETARIA – Die Northam Plats Hengelklub het die afgelope naweek hul maandelikse hengelkompetisie by die Konsentratordam gehad. Aanvanklik sou dit ‘n swerwerskompetisie wees, wat die hengelaars geleentheid gee om by enige dam van hulle keuse te hengel. Omdat dit ‘n koue naweek was wat met reën gepaard gegaan het, het die meeste hengelaars die Konsentratordam verkies. Ondanks die slegte weer het ongeveer 40 hengelaars aan die kompetisie deelgeneem en is daar altesaam 493 vis gevang met ‘n totale gewig van 377kg. Dit blyk dat die klub oor ‘n paar potensiële springbok hengelaars beskik. Die mansafdeling is gewen deur die springbok-hengelaar, Carl Schultz, wat altesaam 126 vis, uit ‘n totaal van 493, gevang het. Die dames-afdeling is gewen deur Nicolene Heydenrych, die junior-afdeling deur Gary Retief en die penkop-afdeling deur Jaco Geldenhuys. Die datum van die volgende kompetisie sal eersdaags in die Kwêvoël verskyn. Alle belangstellendes kan die klubvoorsitter, Ronnie du Toit, skakel by 073 6658 169.