General

Tannie Sannie vier haar 83ste verjaarsdag.

THABAZIMBI- Tannie Sannie Uys, eintlik van Fochville in die Vrystaat, het ver gekom om haar 83ste verjaarsdag te vier saam met haar familie.
Tannie Sannie was baie bly om by haar dogters te wees vir haar verjaardag. Die res van die familie, hulle is van ver, sou later kom. En dis dan wanneer die lekker gesels begin. Almal sal moet help om die kersies dood te blaas, sê tannie Sannie, want die asem is nie meer wat dit moet wees nie, oftewel die kersies raak nou te veel.
Tannie Sannie vertel dat sy al baie in haar lewe gesien en gedoen het. Haar gesondheid en geheue is nog net so skerp as wat toe sy ‘n jong meisie was, spog sy.
En watwou, sy geniet die lewe nog elke dag en sê dat met die Here se genade was haar pad nog net met rose besaai. Hy het haar altyd bygestaan en loop al haar paaie saam met haar. Ongelukkig is haar jongste dogter onlangs met breinkanker gediagnoseer. Sy is hier om self na haar te om te sien, sê tannie Sannie, dis mos wat ma’s doen.
Hoewel haar man reeds 29 jaar terug oorlede is, is sy nooit alleen nie; haar dogters en familie hou haar besig, vertel tannie Sannie. Daar is reeds vyf geslagte in haar nageslag wat die lig gesien het; voorwaar ‘n trotse prestasie.
Tans kuier tannie Sannie by haar dogter Susan en skoonseun Petrus du Preez hier in Thabazimbi. Haar kinders beskryf haar as ‘n liefdevolle, saggeaarde mens wat ook maar goed hardekwas kan wees. Sy is altyd positief en sien net die goeie raak, dis wat haar so spesiaal maak vir hulle, vertel die familie. Hulle, van kinders tot agterkleinkinders, is bly om dié groot verjaardag saam met haar te kan geniet.