General

Misdaad steeds te hoog

“Die nuutste misdaadstatistiek (rou syfers) wat toon dat moord (-3,7%), poging tot moord (-7,9%), gewone roof (-8,7%) en roof met verswarende omstandighede (-6,5%) ‘n afname toon, kan ‘n vals gerustheid skep oor misdaad in Suid-Afrika. Die moordsyfer is nou 38,6 per 100 000 van die bevolking, maar die wêreldgemiddeld vir moord is 5 per 100 000 van die bevolking. In Suid-Afrika is moord steeds amper agt keer hoër as die wêreldgemiddeld. Roof by woonhuise het met 13,5% (14 481) toegeneem. Vanaf die vorige finansiële jaar 2006/2007 tot nou het roof by woonhuise met 38,9% toegeneem. Motorkapings het met 4,4% (14 201) toegeneem. Hierdie tipe misdade bedreig die publiek se lewens en is hulle in hulle eie huise en op pad werk toe onveilig. Dit bevestig die publiek se siening dat misdaad toeneem en buite beheer raak”, sê mnr Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Veiligheid en Sekuriteit van die Vryheidsfront Plus.
“Die polisie mislei homself en die publiek deur die syfer per 100 000 van die bevolking te wil gebruik om te bepaal of die polisie sy doelwitte met misdaadbekamping bereik het. Indien die werklike misdaadsyfers (rou syfers) gebruik word, kon die polisie slegs in een uit die agt ernstige kontakmisdade hulle eie doelwit van ‘n 7 – 10% verlaging bereik. Hierdie doelwitte is deur die polisie in 2004 gestel en net “Ander roof” is met 8,7 % verlaag. Volgens die werklike syfers het moord (-3,7%), poging tot moord (-6,7%), aanranding-ernstig (-3,6%), aanranding-gewoon (-5,7%), onsedelike aanranding (-0,7%) en roof-verswarend (-6,5%), almal minder as 7% gedaal. Verkragting se syfer kan nie gebruik word nie want die statistiek is slegs tot einde Desember 2007. Hierdie statistiek toon dat die polisie nie effektief misdaad bestry het nie en in sy doelwitte gefaal het”, sê Groenewald.