Gholfnuus
THABAZIMBI – Terug uit die Kaap is dit lekker om weer by die plaaslike gholf betrokke te wees. Verlede Saterdag was dit liga en het die manne op Koro Creek, dis nou die ou Nylstroombaan, teen die Veterane gespeel. Denis Dreyer, Toppie Olivier, Billy Pring, Derek Torlage, Jakkie van der Wateren, Jannie van Graan, Piet Venter en Bernie Gous het in die wen-gewoonte voortgegaan en is nou los voor in die liga. Tuis was die opkoms bo verwagting goed. Die spoed van die setperke het die spelers redelik besig gehou. Daar is Bonus Syferspel gespeel en RC Terblanche (+1), Marina van der Wateren (0), Nita Barnard (-1) en Vollie Volschenk (-2) was die pryswenners. Belangrike nuus vir die Sages is dat ons Thabazimbi byeenkoms van 10 Julie na Augustus verkuif. Ons gaan op die 10de op Euphoria speel. Dit is die nuwe baan tussen Nylstroom en Naboomspruit wat deur Annika Sorenstam ontwerp is. Ons verneem dat die baan ‘n ware ervaring is. Jy moet glo maar so’n paar ekstra balle saamvat. Lede moet asseblief ook onthou dat die klub se finasiële jaar reeds geëindig het en dat die nuwe jaar se ledegelde reeds betaalbaar is.