Emoeboerdery in Thaba begin
THABAZIMBI – Hoewel wild en beeste ‘n bekende gesig op plase in die Thabazimbi-omgewing is, is daar nou ‘n interessante boerdery waarmee enkele Thabazimbiërs hulle deesdae besig hou, naamlik emoes, oftewel die Australiese volstruis.
Pieter en Glaudina du Plessis het eers onlangs hul hand gewaag aan hierdie relatief onbekende boerdery, maar het reeds groot welslae behaal met heelwat eiers wat gelê is. Ook Johan en Tessa van Deventer van Enjanté Boerdery boer met emoes.
Van die vier broeipare op die Du Plessis se plaas het hul reeds tydens die eerste seisoen in hul nuwe tuiste reeds meer as 55 eiers gelê. Drie baba-emoes het reeds hul verskyning gemaak en 51 eiers is tans in broeikaste.
Hierdie Australiese voël, wat ook nie kan vlieg nie, deel definitief gelaatstrekke met die Suid-Afrikaanse volstruis, ten spyte van die feit dat hulle feitlik geen vlerke het nie, sowat ‘n derde kleiner is as ‘n volstruis en hulle nekke korter is as die van ‘n volstruis. Daar is ook geen verskil tussen die mannetjies en wyfies nie.
Die interessantste verskil tussen die twee voëls is reeds sigbaar wanneer die eiers gelê word. Anders as die groot room-geelkleurige eiers van volstruise, lê emoes donkergroen swart gespikkelde eiers, glad of grof, sowat twee-derdes die grootte van ‘n volstruiseier. Die jong pas-uitgebroeide emoes, swart en room gestreep, is oulik genoeg om ‘n mens se hart te steel.
Wat sou ‘n boer in so ‘n tipe boerdery laat belangstel? Nie alleen die Australiërs nie, maar heelwat Europeërs en veral Amerikaners het die waarde van emoes ingesien en met hulle begin teel. Die waarde van die emoe lê nie in sy vere, soos volstruise s’n nie, maar in ‘n olieklier, sowat 40 – 50cm lank, 15 cm breed en 8 cm dik onder die vel oor die kruis van die emoe.
In die natuur stel hierdie olieklier die emoe-mannetjie in staat om die eiers uit te broei, ‘n proses wat sowat 54 dae neem, sonder dat hy die nes verlaat, selfs om water te drink.
Sodra die mannetjies op die nes begin sit, word geen verdere eiers gelê nie. Dus in die boerdery-opset word die eiers verwyder en kan broeipare amper elke derde dag tydens die broeiseisoen ‘n eier produseer.
Wanneer hierdie olieklier, wat as ‘n vetlaag op die rug voorkom, verwerk word, is dit baie ryk aan essensiële vetsure (veral Omega 3 en 6, asook 7 en 9). Dit het anti-inflammatoriese eienskappe, wondhelingseienskappe en kan gebruik word in skoonheidsprodukte, onder andere vanweë sy natuurlike kollageeninhoud. As dit oraal ingeneem word, kan dit help met chroniese toestande soos artritis, spierpyne, inflammasie, diabetes en hoë bloeddruk.
Ook die vleis, uit ‘n gesondheidsoogpunt, is van hoogstaande waarde. Dit is soortgelyk aan volstruisvleis en is laag in cholesterol en byna vetvry. Boonop is die vel geskik om gelooi te word en kan dus gebruik word om leerprodukte soos beursies en gordels te maak.
Emoes is aanpasbare voëls en word deesdae geteel in omstandighede wat wissel van sneeu tot dorre, woestynagtige gebiede. Dis uit so ‘n dorre woestynagtige habitat wat hulle oorspronklike kom, die sogenaamde “Australian outback”. Dit is vanweë hul aanpassing by hierdie omstandighede dat hulle vir twee maande in die jaar feitlik geen kos of water inneem nie, omdat kos en water baie skaars is vir twee maande in die jaar in die Australiese woestyn.
Een ding waaroor die emoes wel uitsoekerig is, is oor die broeimaat wat gekies word. In hierdie opsig was die Du Plessis gelukkig, want op een paar na het al hulle broeipare reeds begin broei, iets waarvoor hulle baie dankbaar is.
In Thabazimbi is hulle een van ‘n skamele drie emoe-boere, vertel Glaudina. Maar hulle hoop om gou nog boere oor te haal om met emoes te boer, want sonder twyfel is die aanvraag groot na emoe-olie. In Amerika, waar die meeste emoe-boere is, kan daar nie in die vraag voorsien word nie.
Meer emoe-boere in Thabazimbi sal hulle egter in staat stel om slagpale, wat ooreenkomstig streng spesifikasies moet slag, op die been te bring en groter inspraak te hê in pryse vir hul produkte.
Dit lyk dus of daar ‘n toekoms mag wees in emoe-boerdery, maar intussen is dit ‘n aardigheid om aan hierdie eienaardige voëls, met hul snaakse geluide, groen eiers en oulike kleintjies gewoond te raak.