General

Zimbabwe-verkiesing bedekte staatsgreep

Die Vryheidsfront Plus sê in ‘n mediaverklaring dat Zimbabwe nie meer ’n demokrasie is nie, maar ’n diktatorskap. Die feit dat mnr Robert Mugabe, na die onttrekking van mnr Morgan Tsvangirai, outomaties president van Zimbabwe gaan word, moet as ’n bedekte maar suksesvolle staatsgreep deur Mugabe en sy militêre ZANU-PF leiers gesien word.
Die Afrika Unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het baie duidelike riglyne en besluite oor hoe ’n vrye verkiesing daar moet uitsien en hoe teenoor lande waar ’n staatsgreep plaasgevind het, opgetree moet word. Mugabe het blatant elke verkiesingsriglyn van die AU en SAOG oortree. Die AU en SAOG behoort die Zimbabwe-skynverkiesing as ’n bedekte staatsgreep te sien en daarvolgens op te tree. Dit beteken onder andere dat president Mugabe en sy regering nie deur ander Afrikastate na sy magsoorname in Zimbabwe erken word nie.
Die aanhouding van 2000 MDC-verkiesingsagente, vyf pas verkose MDC-parlementslede en die sekretaris-generaal van die party, mnr. Tendai Biti, is reeds genoeg rede om die verkiesing tot niet te verklaar. Voeg daarby die feit dat die MDC geen toegang het tot die staatsbeheerde TV en gedrukte media nie, die verbod op politieke byeenkomste van die MDC, plattelandse kiesers wie se ID’s geneem is sodat hulle nie kan stem nie en die moord van 85 MDC-lede, dan is dit presies die wyse waarop ’n staatsgreep uitgevoer word.
Die VF Plus sê voorts dat die geweld en intimidasie van die afgelope tyd in Zimbabwe ’n bespotting maak van demokrasie en word al die ou negatiewe stereotipe beelde van Afrika opnuut die wêreld ingestuur. Dit bly onbegryplik dat president Mbeki blykbaar nie wil besef dat die Zimbabwe-gebeure al Mbeki se harde werk van die afgelope tien jaar om Afrika se beeld in die wêreld te verbeter, stelselmatig ongedaan maak en afbreek nie. Deur Mugabe as die diktator wat hy is te hanteer en die skynverkiesing as die bedekte staatsgreep wat dit is, te beskryf, kan verlore geloofwaardigheid nog herwin word.