Sport

Limpopo Jukskei Unie hou jaarvergadering

POLOKWANE – Die Algemene Jaarvergadering van die Limpopo Jukskei Unie het op Saterdag 14 Junie in Polokwane plaasgevind.
Die vergadering is bygewoon deur die bestuur en twee lede van elke klub. Verteenwoordigers van die junior komitee, afrigters en skeidsregters was ook by die vergadering. ‘n Nuwe komitee is aangewys en prestasietoekennings is gemaak.
Die Unie se sake vir die 2008/9 seisoen sal onder die voorsitterskap van Fanus Genis (Tarentale) hanteer word. Faan Genis is aangewys as lewenslange erelid. Die sekretaris is Bossie Liebenberg (Thabazimbi) en die lid vir Finansies is Jannie Bekker van die Landdrosklub in Polokwane. Die tweede lid is Daan Botha van Steenbokklub en die derde is Chris Swanepoel. Die media-skakelbeampte is Martie Nell (Warmbad).
Die Junior Bestuur vir 2008 is vroeër in die jaar verkies. Die lede is Chris Swanepoel (voorsitter), Martiens Vermaak (sekretaris) van Mopanieklub en  Hennie de Beer (tesourier) van die Landdrosklub. Die afrigting word deur Anton Botha (Landdrosklub) hanteer en die addisionele lid is Francois Geldenhuys (Landdrosklub). Die skoleverteenwoordiger is Johan Kotzé.
Prestasietoekennings is gemaak aan spelers wat presteer het in toernooie te Kroonstad. In die afdeling Seuns o/19 het Francois van Zyl en Karel Venter toekennings ontvang. Hulle het die SA span na Namibië gehaal en is tot die streekspan verkies.
In die afdeling Dogters o/19 is Rozanne Kloppers verkies tot een van die vyf beste spelers in die land. In die afdeling Seuns o/14 het Gustaf de Beer en in die afdeling Dogters o/14 het Daphne Liebenberg en Hermien Naudé die SA spanne na Namibië gehaal, asook die streekspan.
Francois van Zyl en Petrie Boshoff het Suid-Afrika verteenwoordig in die o/30-span na Namibië en in die streekspan. Die veteraanman Bossie Liebenberg het aan die SA toernooi deelgeneem en Joyce du Preez was in die Res-span by die B en C toernooi.
In die Dames o/50-afdeling het Adrie Muller aan die Suid-Afrikaanse toernooi deelgeneem en is in die streekspan opgeneem. Die administratiewe beampte, Anton Botha, het  ook ‘n prestasietoekenning ontvang.