General

Is daar fout in die sekondêre onderwys?

THABAZIMBI – Heropleiding van sowat twintig hoërskool wiskunde onderwysers het verlede week by Rra Ditau buite Thabazimbi plaasgevind.
Hierdie inisiatief is ‘n gesamentlike poging van Northam Platinum-myn, die vakadviseur vir wiskunde by die Dept van Onderwys se kringkantoor in Thabazimbi, William Kgafela, Jurgens Basson van JB Consultants, wat die opleiding gedoen het, en sowat 20 hoërskool wiskunde onderwysers in die omgewing.
Northam Platinum-myn het die kursus befonds sowel as akkommodasie verskaf by Rra Ditau vir die onderwysers wat van ver af die kursus bygewoon het.
Volgens Kgafela is daar aanpassings in die wiskunde sillabus en bestaan die hoop dat die opleiding op die lang termyn goeie resultate sal lewer. Nie alleen sal die versterkingskursus die onderwysers help nie, maar ook die leerders sal daarby baat.
Hierdie opleiding geskied te midde van kommer wat tans landswyd bestaan oor die tekort aan onderwysers in wiskunde en wetenskap by veral hoërskole. By Hoërskool Frikkie Meyer is daar tans ook tekorte aan Engels-onderwysers en onderwysers in IT-vakke. Onderwysers in IT kan heelwat beter salarisse in die private sektor verdien.
‘n Omsendbrief is vroeër vandeesmaand deur HFM se beheerliggaam aan leerders versprei waarin ouers van die onderwyser-tekorte (in Wiskunde, Wetenskap en Engels) ingelig word, ‘n plan van aksie uiteengesit word en ‘n versoek aan ouers gerig word om opgeleide personeel te help werf.
Ouers en leerders van HFM was in die laaste tyd baie bekommerd oor die verliese aan ervare onderwysers. Van die ouers het te kenne gegee dat hulle die skoolfonds net gedeeltelik gaan betaal omdat hul kinders ekstra klasse in sekere vakke moet kry as gevolg van die gebrek aan opgeleide onderwysers.
In die afgelope jaar het HFM reeds sewe (of meer) onderwysers verloor. Verlede jaar het die skool ‘n hele paar Engels-onderwysers, sowel as onderwysers in ander vakke verloor. Hierdie kwartaal is hulle een van hul IT-onderwysers, Johan Heystek, kwyt nadat hy ‘n departementshoof-pos in Ellisras gekry het. Twee wiskunde onderwysers is ook blykbaar in die proses om die skool te verlaat.
Die skool sukkel om die poste van die Engels-onderwysers te vul. Ook die hoof, mnr Deon Azar, verlaat die skool aan die einde van Julie om by die private sektor aan te sluit.
In Thabazimbi-dorp word ‘n hele aantal opgeleide onderwysers gevind wat nie bereid is om skool te hou nie. Die vraag is waarom hierdie onderwysers hul poste verlaat.
In die omsendbrief van die HFM Beheerliggaam word verwys na “ook die tekort aan opgeleide en ervare personeel” wat ‘n nasionale en provinsiale probleem is. HFM staar “uitdagings in die gesig op akademiese gebied. Volgens Riaan de Villiers, voorsitter van die HFM Beheerliggaam, is daar besluit dat geen aksie en/of koste ontsien sal word nie om bogenoemde uitdagings ten opsigte van Wiskunde, Wetenskap en Engels die hoof te bied.
Die Beheerliggaam sal die 2008 begroting, hoewel reeds goedgekeur, aanpas indien nodig. Daar sal ondersoek ingestel word na die moontlikheid van verskillende maniere van akademiese versterking soos om van Universiteite se kundigheid gebruik te maak
‘n Span is deur die Beheerliggaam saamgestel wat fokus op werwing van onderwysers op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. ‘n Vierde deel van die plan behels dat ‘n span ouers saamgestel sal word wat alle moontlikhede sal ondersoek. Privaatmaatskappye soos Anglo, Northam Platinum en Kumba word genader vir ondersteuning.
Laastens word die ouers versoek om die name van opgeleide en ervare onderwysers in Wiskunde, Wetenskap en Engels aan Hoërskool Frikkie Meyer deur te gee.