Thabazimbi gimnas presteer
THABAZIMBI – Die 9-jarige Ruben Clinton, Gr 3-leerder van Laerskool Thabazimbi en lid van die Thabazimbi Gimnastiekklub, het ‘n algehele sesde plek behaal in sy afdeling tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat die afgelope naweek op 13 en 14 Junie in Ermelo gehou is.
Mans Artistieke Gimnastiek is ‘n olimpiese sport wat uit vier dissiplines bestaan, naamlik spronge, brug, rekstok en vloer. Ruben het tydens die SA’s ‘n silwer medalje verwerf vir sy sprong, vierde plek behaal vir vloer, vyfde vir rekstok en 26ste plek vir brug. Dit het hom ‘n algehele sesde plek besorg.
Ruben het sy Limpopo kleure, saam met ander lede van die Thabazimbi Gimnastiekklub, behaal op 30 Mei in Pietersburg. Hierna het al die Limpopo gimnaste aan ‘n uitdun ronde deelgeneem, waarvan die vier beste gimnaste in elke afdeling Limpopo verteenwoordig het by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.
Ruben doen reeds die afgelope vier jaar gimnastiek. In 2005 het hy vyfde geëindig by die SA’s en in 2007 het hy vierde geëindig. Dit lyk asof hierdie gimnas nog groot planne het vir die toekoms.
Ander lede van die Thabazimbi Gimnastiekklub het ook goed presteer by veral die provinsiale kompetisie. Lees meer oor hul prestasies in ‘n latere Kwêvoël.