Thabazimbi Gholfliga vaar uitstekend
THABAZIMBI – Thabazimbi Gholfklub se liga-span is vanjaar besig om uitstekende gholf te speel. Hulle het verlede Saterdag op Amandelbult met die span van Mogol afgereken en ook ‘n bonuspunt verdien. Toppie Olivier, Denis Dreyer, Jakkie van der Wateren, Jan-Floris van der Wateren, Jannie van Graan, Bernie Gous, Derek Torlage en Chris Bronkhorst het al hulle wedstryde gewen.
Tuis het die dames ook hulle liga gespeel. Die dames speel nog onder die vaandel van Limpopo. Ses klubs het hier teen mekaar meegeding. Hulle speel ‘n ander formaat as die mans en Thabazimbi het twee groepe wat speel. Die een groep wat bestaan uit Nita Barnard, Marina van der Wateren, Jeanetta Rall en Corlia Williams het tans 17 punte. Die tweede groep bestaan uit Louise van Graan, Esmé Behrens, Maggie Hoffmann en Martie Clark het 20 punte. Hierdie dames word ook sterkte toegewens met die res van hulle byeenkomste.
Denis Dreyer, een van Thabazimbi Gholfklub se lede en gereelde liga-speler is verkies tot die bestuur van Gauteng Noord Gholfunie. Esmé Behrens, ‘n oudlid van Thabazimbi Gholfklub wat reeds haar Nasionale Kleure verwerf het, is ook op die bestuur gekoöpteer. Dit is ‘n groot eer vir die klub en hulle is baie trots op hierdie prestasies.
Saterdag 24 Mei is ‘n baie belangrike dag. Thabazimbi Gholfklub speel dan sy Sanlam Kankerdag gholf en daar word gehoop dat soveel moontlik hierdie belangrike dag gaan ondersteun.