Sport

Sanlam Gholfdag vir Kanker op Thabazimbi

THABAZIMBI – Sanlam gee elke jaar aan gholfspelers die geleentheid om ook so hulle empatie met kankerlyers te betoon deur gholfdae dwarsoor die land te reël. So kan spelers hulle spel geniet en tog ook tot hierdie verdienstelike saak bydra.
Baie dankie aan die spelers wat wel opgedaag het en ‘n baie aangename dag se gholf kon geniet het. Baie dankie ook aan Linda Prinsloo en haar span van Sanlam wat die dag gereël het. Die kos deur die dag en die aand was iets besonders. Dankie ook aan Ronel en haar span wat dit voorberei het.
Die wenners van die verskillende afdelings was: Dames: Nita Barnard (A), Maggie Hoffmann (B) en Jeanetta Rall (C). Mans: Carel Payne (A), Chris Bronkhorst (B) en Bernie Gous (C).
Billy Pring en Pietie Terblanche het verlede week in die Sages se Nasionale Kampioenskappe in Port Elizabeth gespeel. Albei het blykbaar goed gevaar maar kon net nie die finale knoop deurhaak nie. Op Bronkhortspruit het vier van Thabazimbi Gholfklub se manne in die GNGU se Kampioen van Kampioene toernooi gespeel. Ook hier kon die manne net nie bo uitkom nie. Jaco Prinsloo, Nico van der Westhuizen, Johan Barnard en Christo Rall was die manne wat daar gespeel het.
Daan Lotheringen kon weens komplikasies na ‘n heupvervanging verlede jaar nog nie weer gholf speel nie. Hy is egter steeds een van die “doen-lede” en het gesorg dat die nuwe bof No 16 met ‘n netjiese reeling beveilig is. Baie dankie Daan.