Radio Bosveld amptelik op die lug
THABAZIMBI – Die amptelike opening van Radio Bosveld vind Saterdag 31 Mei plaas by die Greenville-gebou in Van der Bijlstraat, net oos van Hamerkopstraat.
Die uitsendings wat tot dusver plaasgevind het op 104,9fm was toetsuitsendings, maar dit is die golflengte vir die amptelike uitsendings ook. In terme van die lisensie, uitgereik deur die uitsaai-owerheid OKOSA, saai Radio Bosveld amptelik vanaf 1 Junie uit.
Die uitsending kan sover as Ellisras, Brits, Dwaalboom en selfs so ver as Pretoria opgevang word. Die enigste plek in die omgewing wat nie Radio Bosveld kan opvang nie, is Leeupoort, sê Victor van Wyk, stasiebestuurder, as gevolg van sy laer ligging. Maar hulle was self verbaas om te hoor hoe ver die uitsending strek, se hy.
Onder die personeel wat aangestel is by Radio Bosveld tel drie klankmanne (aanbiederassistente), 10 deeltydse omroepers, ‘n ontvangsdame en ‘n skeduleerder.
Een van die lisensievoorwaardes is dat die stasie 18 uur per dag mag uitsaai. Uitsendings geskied op weeksdae van 5uur soggens tot 11uur saans en naweke van 6uur soggens tot middernag.
Dit sal ‘n tipiese gemeenskapsradiostasie wees, vertel Victor, wat kwessies soos gesondheid, regskwessies, landbou en ander inligtingsprogramme sal uitsaai. Daar sal uurliks nuus wees en gereelde weervoorspellings, sê hy. Voorts sal hulle ook op Vrydae ‘n oorsig gee oor nuus wat in die Kwêvoël verskyn.
Hulle beplan grootskaalse deelname aan gemeenskapsprojekte, sê Victor. So byvoorbeeld werk hulle saam met die plaaslike polisie en ‘n noodnommer sal in werking gestel word waar plaasaanvalle, inbrake of enige ander misdaad gerapporteer kan word. Hulle gaan ook nou saamwerk met die plaaslike verkeersdepartement. Plaaslike finansiële kenners sal in programme gehoor word en gesondheidsaspekte sal deur dokters en Anglo Platinum aangebied word. Aspekte soos HIV/Vigs en veiligheid op myne is aspekte wat bespreek sal word.