Probleme met munisipale rekeninge
THABAZIMBI – As gevolg van ‘n probleem wat met die uitstuur van munisipale rekeninge in Thabazimbi ontstaan het, sal inwoners eers later as gewoonlik hul maandelikse diensterekening ontvang.
‘n Verteenwoordiger van die munisipaliteit het egter verduidelik dat die verskuldigde bedrae wel bepaal is, maar dat die probleme ontstaan het met die papierwerk en uitstuur van rekeninge. Inwoners kan dus by die betaalkantoor vasstel wat hul verskuldigde bedrag is en dit daar betaal. Dit is wenslik dat inwoners soos gewoonlik hul rekeninge so gou moontlik betaal.
Die transaksie sal mees akkuraat afgehandel word indien ‘n vorige maand se rekeningstaat of verwysingsnommer/rekeningnommer die betaling vergesel, en nie net staatgemaak word op die adres nie.
Die afsnydatum vir betalings, gewoonlik die 10de van elke maand, sal waarskynlik vir Junie uitgestel word, omdat die rekeninge laat uitgestuur word.
Inwoners wat per aftrekorder betaal word nie deur oponthoud geaffekteer nie.