THABAZIMBI – Plaaslike lede van die SAVF (Suid-Afrikaanse Vrouefederasie), Platinum Health en die SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) het verlede week saamgespan om die fokus op Kinderbeskermingsweek te laat val .
Kinderbeskermingsweek was vanjaar van 26 Mei tot 1 Junie landswyd gehou met die klem op die beveiliging en beskerming van kinders. In Thabazimbi-omgewing is dit met groot ywer aangepak en die boodskap is met ‘n poppekasaanbieding aan die kinders, meestal voorskools tot Gr 3, oorgedra. Omdat die aanvraag groot was, is poppekasaanbiedings tot laat die afgelope week gedoen, selfs al was dit nie meer Kinderbeskermingsweek nie.
Met behulp van die poppe word die kinders geleer hoe om boelies te hanteer en hul lyfies te beveilig teen aanraking “waar hul swemklere toemaak”. Stap een is om te skree: nee, nee, nee. Stap twee is om weg te hardloop en stap drie om iemand te vertel.
Die SAVF is baie tevrede dat hul boodskap die kinders bereik het. Hulle het baie briefies van die jongspan gekry oor wat hulle geleer het. Die aanbieders word ook oral voorgekeer en met ywer vertel die stappe om te volg in die geval van onwelkome aanraking.
‘n Wye area is deur die aanbiedingspan besoek. Al die kleuterskole in Thabazimbi, Laerskool Thabazimbi, Ysterberg Laerskool, Naletsane Skool (Koedoeskop), Hoopdal Skool, Max Eloff Kleuterskool (Amandelbult) en Swartklip Laerskool is besoek.
Fondse vir die SAVF is ingesamel tydens die aanbiedings. Muntleggings by sommige skole het R2100 (van Laerskool Thabazimbi) en R600 van die kleuterskole opgelewer. Baie blikkieskos is ook ontvang van Laerskool Thabazimbi, die kleuterskole en Swartklip Laerskool.
Volgens die SAVF waardeer hulle die bydraes van al hierdie skole en die ouers deur wie dit gemaak is. Dit stel die SAVF in staat om ‘n verskil te maak deur die verligting van voedselnood en dienslewering.
