General

Polisafkoping nie beste uitweg as skuld knyp

Hoë rentekoerse en inflasie kan mens maklik in finansiële verknorsing laat beland.  Om
egter polisse goedsmoeds af te koop of  die maandelikse premiebetalings te staak ten einde skuld te betaal is, is dikwels nie die regte besluit nie, sê Fanie Venter , finansiële adviseur van Sanlam in Thabazimbi .
Hy sê die kern-idee is dat broodwinners en hul gesinslede hulself tot finansiële dissipline verbind en nie bestee wat hulle nie het nie. “Maar polisse is baie maal die gesin se enigste bron van sekuriteit en verskaf juis stabiliteit in tye van finansiële nood waar ander opsies nie beskikbaar is nie.  Dit kan die verskil beteken tussen oorlewing en algehele ondergang en ontbering indien die broodwinner skielik sterf,” sê Fanie.
“Jy verloor altyd as jy ‘n polis vroeg afkoop of premies vroeg staak – eers as gevolg van die sekuriteit wat jy inboet en tweedens weens die verlaagde waarde wat uitbetaal word.
“As jy in geldnood beland, is dit dus altyd beter om die storm te trotseer en ‘n mate van stabiliteit in jou finansiële sake te behou deur nie jou polisse op die spel te plaas nie. ”
As sake regtig sleg lyk, beveel Fanie aan dat jy met jou versekeraar kontak maak en vra of jy vir ‘n oorbruggingsperiode geen premies kan betaal nie, of ten minste ‘n verminderde premie om sodoende enige risikodekking te behou.  Sommige polisse bied die opsie dat jy dan hierdie premies ná die oorbruggingsperiode kan terugbetaal om die groei wat moontlik so verbeur kon word, op te maak.
Of vra jou versekeraar die vergunning dat onbetaalde premies soos ‘n skuld teen die polis opgehoop word, maar tref reëlings om die skuld so gou moontlik te delg.  Die risikodekking bly dan ongeskonde, mits die terugbetaling nie te lank uitgestel word nie.
‘n Verdere opsie is om ‘n lening teen die polis te oorweeg – wat meestal ook goedkoper as ‘n banklening is.  Fanie waarsku egter dat die Nasionale Kredietwet vereis dat leners in staat moet wees om die lenings te kan terugbetaal.  Tref in so ‘n geval reëlings dat gou moontlik begin word om die lening terug te betaal.
Dis waarskynlik ‘n beter oplossing om met jou bankbestuurder oor die konsolidering van jou skuld te onderhandel.  Dit beteken bloot dat jy al jou skuld (soos winkel- en kredietkaarte) in een mandjie saamvoeg en dan maandeliks op daardie mandjie (rekening) afbetaal.
Belowe, voordat jy polisse of premies beëindig ter wille van korttermynvoordeel, sal jy eers met jou finansiële adviseur as vertroude vriend praat.  Jy kan dit in alle waarskynlikheid nie bekostig om sonder jou polisse te wees nie.
Jy kan met Fanie Venter in verbinding tree by 01477 23066