General

Ontspoorde trein: steeds besig met opruiming

NORTHAM – Die steenkool wat gestort is tydens die treinontsporing suid van Northam is opgeruim, maar is nog nie na ‘n bestemming vervoer nie. Die spoor is egter reeds oopgestel en die treintrokke is besig om verwyder te word.
Die trein met 75 trokke vol steenkool het Saterdag 17 Mei ontspoor ongeveer 25 km suid van Northam, by Arthur’s View.
Vyftig van die 75 trokke het omgeslaan en die steenkool-inhoud vir ongeveer 1km langs die spoor gestrooi. Hoewel Transnet Freight Rail nie bereid was om kommentaar te lewer oor die oorsaak van die ongeluk nie, is daar in ‘n dagblad berig dat omstanders die mening uitgespreek het dat die trein heeltemal te vinnig om ‘n draai gery het. Die omvang van die skade kon nog nie bepaal word nie, lui ‘n verklaring van Transnet.
Die trein was besig was om steenkool van Grotegeluk-myn na Bijlkor by Van der Bijlpark te vervoer. Die spoor self is herstel en heropen op Maandagmiddag 19 Mei.
‘n Volledige ondersoek na die ontsporing word tans geloods, se mnr Lameck Nyamane, woordvoerder van Transnet Freight Rail. Volgens hom word daar nie spesiale voorsorgmaatreëls getref om ‘n soortgelyke voorval te voorkom nie, maar Transnet streef ‘n veiligheidskultuur na in die vervulling van sy funksie.
Niemand is tydens die ontsporing beseer nie.