Medisyne tekorte hopelik op ‘n einde
THABAZIMBI – Een van die uitdagings wat vir die nuwe Thabazimbiese Kliniekkomitee in die gesig staar, is tekorte aan medisyne by die klinieke en ‘n mobiele kliniek wat soms nie by die buitewyke uitkom nie.
Die komitee, wat in beheer van die drie klinieke in Thabazimbi, naamlik Regorogile 1 en 2, Ipelegeng en Thabazimbi (“pienk”) klinieke, is, is saamgestel uit verteenwoordigers van die gemeenskap. Sedert Desember 2006 val die beheer van die klinieke nie meer onder die munisipaliteite nie, maar onder die Departement van Gesondheid.
Volgens een van die komiteelede, Marie Steenekamp, was die voorsiening van medisyne aan klinieke sleg die afgelope tyd. Dit het beteken dat bejaardes en ander pasiënte, teen betaling, hul medikasie by die staatshospitaal moet gaan haal, dikwels met ‘n groot gesukkel vanweë ‘n gebrek aan vervoer. Baie pasiënte sukkel om chroniese medikasie te bekom.
Dit blyk dat hierdie situasie toe te skryf was daaraan dat die staat van medisyne-leweransiers verwissel het en dat die oorgangsproses wisselvallige lewering veroorsaak het. Die situasie is aan die verbeter en hopelik sal alle probleme tydens Junie uitgestryk wees.
Daar is egter ook tekorte landwyd, ook by privaat-apteke, van sekere medisyne, soos bloeddruk-medisyne, wat natuurlik ook die lewering by klinieke benadeel. Volgens verteenwoordigers by die Departement van Gesondheid behoort medisyne wat nie by klinieke beskikbaar is nie, ook nie by hospitale beskikbaar te wees nie.
Daar kon nie bevestiging gekry word dat probleme met mobiele klinieke bestaan nie. Volgens die nuwe kliniekkomitee bedien die mobiele kliniek nie meer die area nie, maar ander werknemers van die Departement van Gesondheid ontken dit.
Indien enige klagtes of navrae oor die lewering van medisyne aan klinieke bestaan, kan lede van die gemeenskap vertoë rig aan Cathy Pistorius in Nylstroom by faksnommer (014) 717 5504.