Kinders en huishulpe moet bedag wees
Nie slegs ouers nie, maar ook kinders en huishulpe, moet bedag wees op gevare van misdadige insidente in woongebiede.
Omdat huise dikwels in die dag beman word deur huiswerkers en kinders, moet juis húlle bedag wees op die werkswyse van misdadigers, sodat hulle nie sagte teikens word nie. Sonder om onnodig paniek te saai, moet hulle met genoeg inligting toegerus word sodat hulle bemagtig kan word om intelligente besluite te neem in verdagte omstandighede.
Tuisblyers wat bewus is van moontlike gevare en basiese veiligheidsbeginsels toepas, sal minder waarskynlik onkant betrap word en kwaaddoeners nie so maklik toegang tot die eiendom gee nie.
Selfs die beste huisbeskermingstelsels is nutteloos as dit nie reg gebruik word of wanneer die inwoners van die woning nie op gevaar bedag is nie.
Dis gewoonlik makliker vir misdadigers om huishulpe en kinders te oortuig om hulle toegang tot die perseel te gee. Hulle is ook meer geneig om persoonlike inligting oor die huishouding en sy roetine weg te gee, omdat hulle nie besef dat hierdie soort inligting in die verkeerde hande baie gevaarlik kan wees nie.
Robyn Farrel van 1st for Women Insurance Brokers beveel aan dat geen vreemdelinge op die erf toegelaat word nie, ongeag van hoe goed die rede vir die besoek is. Neem hul kontakbesonderhede en verseker die “diensverskaffer” dat die huiseienaar ‘n afspraak sal maak. ‘n Hek moet nooit oopgemaak word tensy bevestig is wie die besoeker is nie en dat daardie persoon verwag word nie. Hekke en sekuriteitshekke moet nooit oopgelaat word nie, nie eers gedeeltelik nie.
Sy beveel ook aan dat geen persoonlike inligting per telefoon of interkom verskaf word nie. Dit sluit veral in inligting oor huishouding-roetines of werkskedules. En natuurlik mag huissleutels nie rondlê nie.
Dit sal goed wees as huiseienaars, huishulpe en kinders die kontaknommers van die polisie of sekuriteitsmaatskappy ken. Almal in die huishouding moet weet waar die paniekknoppies in die huis is. Wees bewus van verdagte persone wat in die omgewing van jou woonbuurt rondhang of verdagte aktiwiteite in die omgewing en rapporteer dit aan die betrokke owerhede. In- en uitgaan op erwe is sensitiewe tye en hekke moet dig toegemaak word. Dit is ook goed om jou bure te ken.