Gholfbaan steeds mooi nieteenstande koue
THABAZIMBI – Die winter is nou met mening hier maar die gholfbaan is nog steeds mooi en hier van nege-uur af lekker leefbaar warm. Verlede Saterdag se wenners van die IPS kompetisie was Bertus Roos (35), Alta Venter (34), Jakkie van der Wateren en Cobus Snyman (33).
Saterdag 14 Junie is dit die maandelikse Slagspel en op 21 Junie is dit weer IPS waar spelers hulle eie maats kan kies. Saterdag 28 Junie speel ons ligaspan op Koro Creek teen die Veterane.
Die ou kroeg is nou gestroop en die klub behoort binne drie maande die nuwe kroeg te betrek. Die Komitee vra verskoning vir die tydelike ongerief, veral vir die rokers. Onthou ook om u kas in die kleedkamer te identifiseer voor die einde van Junie, want dan gaan die ongeïdentifiseerde kaste se slotte geknip word.
Mens wonder soms of die inwoners van Thabazimbi besef hoe ‘n besondere dorp ons in bly. Ons het een van die beste nege putjie gholfbane in die land. Ons het een van die beste en mooiste koerante in die land. Ons het ‘n eie teater wat gereeld bekende kunstenaars lok en nou het ons ook ons eie radiostasie. Ons hoop om vanaf Julie ook meer blootstelling oor die lug te kry. Ons bly voorwaar in ‘n dorp waarop ons trots kan wees.
Ek sal vir die volgende twee weke bietjie weg wees en daar sal dus nie gholfnuus wees nie.