Fondsinsameling vir Gr 11’s
THABAZIMBI – Met die aanbied van die program Musiek Pret Saterdag 31 Mei was dit duidelik dat daar baie gelag en gesels sou word. Die lekker musiek aand by die ou bioskoopsaal met aanbieders Wouter en Marqueaite Strauss en hulle gesin, het die gehoor op hulle tone gehou.
Die aand se vermaak het ‘n lekker ete ingesluit vir die gaste. Al wat hulle moes doen was om vrae te antwoord oor musiek en so hier en daar iets van ‘n liedjie te demonstreer. Dit self het vir baie pret gesorg. Elke tafel het ‘n knoppie gehad wat hulle moes druk as hulle die naam van die kunstenaar of die liedjie herken. Vir die tafel wat eerste gedruk het met die regte antwoord was daar pryse om te wen. Elke tafel het sy eie tema gehad. As die ander gaste gevoel het dat die tafel nie bly genoeg was oor die wen rondte nie was hulle beboet met R30.
Dit was alles vir die fondsinsameling van HFM se Gr11’s. Hulle wil die jaar iets anders vir die Gr12’s aanbied en daar word met groot geheimhouding reëlings vir die dag getref.
Die program Musiek Pret word gebruik vir spanbou, gesinsvermaak en fondsinsamelings. Die aanbieders is al die pad van Meyerton en toer die hele land deur. Daar sal nog egter ‘n hele paar fondsinsamelingsprojekte wees vir die Gr 11’s want alles wat hulle wil doen kos meer as net ‘n appel en ‘n ei. Die gemeenskap sal op hoogte gehou word van wat nog alles sal plaasvind, en die Gr 11’s hoop dat dit goed ondersteun sal word.