General

28 000 besoekers by Thabazimbi Expo 2008

THABAZIMBI – Die rekonsiliasies van die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo 2008 is voltooi en dit is bepaal dat die fees deur 28 000 besoekers bygewoon was vanaf  1 tot 3 Mei. Vanjaar se fees het oor ‘n perfekte langnaweek plaasgevind. Volgens me Tanya Veldman, projekbestuurder van die Expo, het die onverwagse reën Saterdag 3 Mei verseker die heksyfers beïnvloed. Dit word alhoewel glad nie betwyfel dat die dorp en omgewing wel baie meer besoekers moes akkommodeer as vorige jare nie.
Vanjaar se fees was deur ongeveer 200 uitstallers ondersteun. “Dit was wonderlik om vanjaar te sien hoe die gemeenskap hulle toegespits het om meer wildsvleisgeregte beskikbaar te stel by die kosstalletjies. In die verlede was daar altyd na afloop van die fees deur middel van die impakstudie bepaal dat besoekers aan die fees nie genoegsame wildsvleis kon aankoop en uit probeer nie” sê me Veldman.
Die posisionering van die hoofverhoog op die rugbyveld het besonders goed gewerk. Meer besoekers kon gemakliker geakkommodeer word tydens optredes van die gaskunstenaars. Diegene wat Juanita du Plessis se vertoning Vrydagaand 2 Mei bygewoon het kan getuig van ‘n vol paviljoen, biertuin en rugbyveld waar feesgangers met gemak saam kon kuier en sing!
Die Thabazimbi Expo was vanjaar nie net deur middel van advertensies in verskeie toerisme tydskrifte, koerante en radio geadverteer nie maar was vir die eerste keer in die geskiedenis van die fees ook op SABC televisie kanale geadverteer. Die totale mediawaarde word oor die R 2.5 miljoen rand bepaal volgens Carel Hoffmann, Bestuurder van Oppikoppi Produksies.
Dit is duidelik dat Oppikoppi Produksies reg deur die bank verseker het dat die plaaslike rolspelers van die Thabazimbi gemeenskap betrokke was by die fees soos Thaba Spar, Die Kwêvoël, Boogskiet klubs, Jagtersvereniging, Koedoeskop laerskool, Marakele Nasional Park, Kumba Iron ore, Thabazimbi se nuut gestigde toerisme vereniging en so meer.
Hoffmann sê ook dat die waarde van die fees nooit onderskat moet word nie veral in terme van die finansiële inspuiting vir die dorp, die posisionering van Thabazimbi as a gekose toeriste-bestemming en die bemarking van investeringsgeleenthede.