Wildveiling te Polokwane
POLOKWANE – In een van die mooiste veilingsopsette is sowat 270 stuks wild van Pride of Africa (eienaar Mike Fuchs) op 25 April in Polokwane van die hand gesit.
‘n Groot aantal kopers het die veiling bygewoon en daar was ‘n goeie vraag na manlike diere terwyl teelgroepe ook goeie pryse gelewer het. Die afslaer was Willie Roux van Vleissentraal Bosveld.
Individue in koedoe-familiegroepe is vir gemiddeld R2 300 verkoop terwyl die bulle teen gemiddeld R11 857 verkoop is. Die hoogste prys vir ‘n bul was R14 250. Kameelperde het teen R16 000 elk verkoop, volstruise teen ‘n gemiddeld van R2 300 elk en sebras teen R4 644 elk.
Njala familiegroepe is teen gemiddeld R5 467 elk verkoop terwyl die bulle teen sowat R8 750 elk verkoop het. Die verskil tussen waterbokbulle en –familiegroep-individue was nie so groot nie. Bulle het teen gemiddeld R5 000 elk verkoop en die familiegroep-individue teen R4 233.
Eland het teen R5 000 elk per familiegroeplid, en R11 000 per bul verkoop. Die hoogste prys per bul was R12 000. Die verskil tussen gemsbok-familiegroep individue en –bulle was nie groot nie. Familiegroep-individue is verkoop teen R4 806 elk teenoor die R5 055 elk van die bulle. Die hoogste prys vir ‘n gemsbokbul was R5 750.
Altesaam 76 blesbokke teen gemiddeld R1 053 elk is verkoop en een blouwildebees teen R3 400.
Ses rooihartebeesbulle is teen gemiddeld R5 217 elk verkoop en 23 stuks familie individue teen R3 813 elk. Die hoogste prys vir ‘n rooihartebeesbul was R5 750. Rooibokke het teen gemiddeld R775 elk verkoop en die ramme teen R1 450 elk met die hoogste prys van R1 900 vir ‘n ram.
Die omset van die wildveiling het R869 500 beloop.
Die volgende wildveilings wat deur Vleissentraal Bosveld hanteer word, vind op 2 Mei by Alldays, 3 Mei by Vaalwater en 17 Mei, weer by Vaalwater plaas.