Elana Greyling
MOLIMOLLE – Die lede van die Vroue Landbou Unie Noord het pas hulle jaarlikse Kongres te Lekkerrus, Nylstroom gehou. Meer as 200 vroue het die twee dae kom bywoon om die jaar tema van “Leef Gesond” behoorlik uit te leef. Talle sprekers het hierdie tema belig.
Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het beklemtoon dat alles wat nodig is om gesond te leef uit die natuur uit God se hand ontvang word. Wilna van den Heever van KANSA het die grootste voorkombare oorsaak van kanker grafies belig, naamlik rook. Sy het dames aangemoedig om te help om die land ‘n rookvrye sone vir die jeug te maak.
Esmarie Pretorius, een van die hoofsprekers, is ‘n biokinetikus, ma en Springbokatleet. Sy het ‘n paar grondreëls neergelê vir die leef van ‘n gesonde lewe. Eet elke oggend ontbyt, een van drie gebalanseerde maaltye, sny rook en alkohol so ver moontlik uit. Slaap ten minste sewe ure elke nag. Oefen drie maal ‘n week. Beperk stres en hou jou liggaamsgewig konstant. Al hierdie reëls het sy ook op die gesonde gees van toepassing gemaak en het beslis vir elkeen stof tot nadenke gegee.
Carla Katz van Medihelp het praktiese oplossings gegee vir vroue en hul gesinne se behoeftes op die gebied van mediese versekering.
George Wilken van die Landbou Werkgewersorganisasie het arbeidswetgewing bespreek, asook die hulp wat die LWO aan werkgewers kan verskaf.
Bosman Grobler het praktiese wenke gegee oor hoe om etikette te lees en waardes daaraan te heg. Bosman is ‘n dieetkundige besig met sy hospitaaljaar en ook toevallig seun van die SAVLU presidente, me Amphia Grobler.
‘n Groot lekkerte was om vanjaar beide die Skrywer en Kunstenaar van die Jaar teenwoordig te hê. Annette Human, die bekendste kosjoernalis in die land het haar kookboeke kom uitstal en gesels oor die voetspore wat elkeen van ons in die wêreld agterlaat. Dawie Mocke leef en skilder voluit en het die dames bekoor met sy spontaniteit en beïndruk met sy ooglopende talent.
Die VLU Vroueboer van die Jaar is ook aangewys. Haar prysgeld van R 10 000 is geborg deur TLU SA en Avello. Die wenner is ‘n beesboer uit Alldays, Susan van der Walt. In die tweede plek was Jana Joubert van Hoedspurit wat met African Greys boer. Emerien Marais was derde met haar broodboomboerdery. Die VLU Persoonlikheid van die Jaar is ook aangewys, Naomi Phillipsen van Aandblomtak op Nylstroom. Volgens die presidente van VLU Noord, mev Retha Prinsloo is dit ‘n VLU vrou in murg en been.
Die drie streke van VLU Noord, naamlik Soetdoring, Koraal en Bosveld het meegeding in verskillende vaardighede. Kompetisie-artikels is uitgestal en die top streek was vanjaar Bosveldstreek onder voorsitterskap van me Tharina Rossel, met Soetdoring in die tweede plek en Koraalstreek derde
‘n Splinternuwe presidente is verkies. Na ‘n naelbytstryd is mev Tharina Rossel, van Bosveldstreek verkies om by mev Retha Prinsloo oor te neem.
Mev Riana Peacock neem as nuwe skakelbeampte van VLU Noord by me Leanda le Cornu oor. Spesiale lidmaatskaptoekennings is ook gemaak.
‘n Swierige prysuitdeling is in die vorm van ‘n Swart en Wit-aand gehou en daar is heerlik gekuier.
