General

Versigtig optimisties die toekoms in

THABAZIMBI – Dit was gemengde gevoelens wat die spesiale GOP(Geïntegreerde Ontwikkelingsplan)-vergadering op Donderdag 24 April in die bioskoopsaal oorheers het. Dit was goed bygewoon deur Thabazimbi munisipale distrik se blankes.
Party het waarskynlik die vergadering verlaat met onbeantwoorde vrae, party met woede wat nie gelug is nie, party met onrus, maar sommige is tog tot ‘n mate gerus gestel dat die Thabazimbi Munisipaliteit se raad stadig maar seker besig is om die skip om te swaai en oper waters in te vaar.
Dat die raad en aktiwiteite van die munisipaliteit heelwat momentum verloor het tydens die vorige raad se termyn was baie duidelik uit pertinente vrae aan die burgemeerster, mnr Lucas Matlou. Hy het egter onomwonde verklaar dat die nuwe raad reeds heelwat gedoen het om sake om te keer.
Hy het gesê dat die munisipale bestuurder, mnr Roger Nkhumise, sedert hy aangestel is  daarin geslaag het om die munisipaliteit se negatiewe kontantvloei-probleem om te keer. Hy het die versekering gegee dat raadslede en amptenare wat korrup of ondoeltreffend is, nie geduld sal word nie. Matlou het die vergadering ook in kennis gestel van ‘n Prestasie Oudit Komitee, ‘n onafhanklik liggaam, wat binnekort saamgestel sal word om die werkverrigting van die munisipaliteit en sy werknemers te moniteer.
Van die klagtes dat die items op die GOP nie goedgekeur behoort te word voordat die geskiedenis van projekte nie bekend is nie. Heelwat van die projekte waarvoor begroot word is reeds vir jare op die GOP sonder dat enige vordering gemaak word. Volgens Jan Viljoen van die Distriks Landbou Unie is 70% van die items op die GOP items wat herhaal word van vorige jare, byvoorbeeld die  Rooiberg-pyplyn.
Die Rooiberg-pyplyn, het Matlou verduidelik, is ‘n geërfde gemors oftewel ‘n “inherited sore”. Probleme wat tydens hierdie projek ondervind is, is diensverskaffers wat afgedank is, verandering van die spesifikasies van die pyp wat sy kapasiteit verminder het, en die betaling van diensverskaffers voordat die werk voltooi was. Hoewel die raad regstappe teen die diensverskaffer wil neem, is hy nie optimisties nie, aangesien die instansies insolvent verklaar is. Tans word daar gewag op Eskom om ‘n elektriese aansluiting te doen sodat die pyp getoets kan word. Daar sal ook drukpompe, waarvoor nie aanvanklik begroot is nie, geïnstalleer moet word.
Nog ‘n aspek waarin die huidige raad goeie vordering gemaak het, is die implementering van dorpswette of munisipale verordeninge en ander stelsels. Dorpswette is baie belangrik vir deursigtigheid en verantwoordbaarheid van munisipale owerhede.
Matlou is ernstig aangevat deur Viljoen oor die beoogde burgersentrum waarvoor ‘n lening van R32 miljoen aangegaan wil word. Volgens Viljoen hoort so iets laer op die prioriteitslys. Matlou het teruggekap en gesê dat die raad nie sy werk kan doen indien hulle nie almal onder een dak is en onvoldoende werkspasie het nie.
R1,8 miljoen is begroot vir verkeersligte. Daar is ook verbetering in die diens deur die verkeersdepartement sedert hul werksure so aangepas is dat verkeersbeampes 24 uur van die dag aan diens is, en nie slegs bedags nie. Matlou het beloof om klagtes op te volg dat die paaie in die dorp nie snags as renbaan gebruik word nie. Ook om aandag te gee om die “Johnson”-pad te laat teer wat die verkeersdrukte by die Lephalale-kruising sal verminder. Hy het ook saamgestem met klagtes dat verkeersbeamptes nie tydens skolierdiens in hul motors bly sit nie.
‘n Ander probleem wat saam met die Polisie aangespreek moet word is onwettige buitelanders en die verhoging wat dit in die misdaadstatistieke teweegbring. Volgens Stefaans Botha kom ‘n Zimbabwese meisie die dorp binne, bevriend ‘n plaaslike persoon, trek by hom in, en kort daarna is haar familie van 20 of meer deel van die plaaslike gesin. Matlou sê dat ‘n verdere probleem ontstaan wanneer plaaslike huiseienaars hul huise onderverhuur aan buitelanders (wat gewoonlik meer geld het) en dan trek hulle terug in hul eie plakkershutte en leef van die inkomste uit die verhuring van hul huise.
Viljoen het die munisipaliteit ook aangevat oor reuse bedrae wat begroot is vir lugreëlaars, rekenaars en kantoortoerusting van ongeveer ‘n miljoen rand.Hier is oorbegroot vir byna ‘n halfmiljoen rand, het Viljoen gesê. Matlou het gesê dat dit die doel van die vergadering is om hierdie bedrae te bevraagteken, maar Viljoen het gesê dis nie sy werk nie, maar die persoon (“mev Maxibela”) wat verantwoordelik is vir die kwotasies om korrekte bedrae te gee. Matlou het gesê dat hierdie bedrae aangepas sal word op die finale dokument.
Ongelukkige inwoners wat hul waardasies wou bevraagteken het nie hond haar-af gemaak nie. Hulle is verwys na die prosedures wat gevolg moet word wanneer klagtes rakende waardasies gelê moet word.
Verdere klagtes wat by die vergadering gelug is, raak elektrisiteitsvoorsiening in Rooiberg en Regorogile. Dit blyk egter dat ‘n heelwat groter probleem ondervind word in die dele waar elektrisiteit direk deur Eskom voorsien word. Volgens Matlou behoort die vergadering deur Eskom-werknemers bygewoon te word, sodat direk terugvoer deur die verantwoordelike partye gedoen kan word.
Op die vraag waarom die munisipaliteit nie teenwoordig was by die openbare vergadering van Eskom-kontrakteurs oor ses 765kV- kraglyne wat naby Thabazimbi verby gelê gaan word nie, het Matlou gesê dat hulle nie ‘n uitnodiging na die vergadering ontvang het nie. Die raad het egter reeds ‘n besluit geneem dat die kraglyne naby  Thabazimbi nie deur die munisipaliteit ondersteun word nie.
Die beswaar oor die karwas-besigheid wat op ‘n padreserwe in Northam gebou is, sal aangespreek word, het Matlou verseker. Onwettige strukture soos daardie moet verwyder word, het hy gesê.
Ter aanvang van die vergadering het Matlou gewys op wat tans die prioriteite vir die munisipaliteit is. Watervoorsiening en sanitasie bly een van die groot kopsere. Die oksidasiedamme by Northam en die rioolplaas by Thabazimbi wat sy maksimumkapasiteit bereik het en op die 50jaar-vloedlyn gebou is, is van die grootste probleme wat aandag sal kry in die nuwe finansiële jaar. Daar moet aandag gegee word aan dienste by Smashblock, ou elektriese kabels, wat veral onder beurtkrag ly, moet hernu word en huise en grond moet aan middelinkomste-groepe voorsien word. Paaie en stormwaterdreinering is ook redelik hoog op die prioriteitslys. Die lys en behoeftes is groot, het duidelik geblyk, maar met deursigtige en verantwoordelike spandering kan Thabazimbi sy doelwitte behaal en ‘n goed funksionerende dorp word.