Vergadering oor kraglyne
THABAZIMBI – Eskom beoog om ses 765kV kraglyne verby Thabazimbi op te rig. Alle belanghebbendes moet kennis neem van die vergadering wat Saterdag 10 Mei om 14:00 in die bioskoopsaal plaasvind oor die beoogde kraglyne.
By ‘n ope dag wat in die biblioteeksaal op 17 April gehou is deur Margen Industrial Services, wat deur Eskom gekontrakteur is om die omgewingsimpakstudie te doen, het belanghebbendes hul misnoeë deeglik te kenne gegee oor die beoogde kraglyne. Op ‘n vroeëre stadium is daar reeds vertoë tot Eskom gerig om nie twee van die ses lyne aan die oostekant verby die dorp en deur Marakale Nasionale Park op te rig nie.
Lede van die Thabazimbi Omgewingsaksiegroep het geglo dat hul geveg om die lyne verder wes te skuif halfpad gewen was. Tydens die April-vergadering het dit egter geblyk dat alle moontlike roetes nog steeds oorweeg word.
Die kraglyne, wat waarskynlik binne die volgende vier jaar opgerig sal word, sal opgewekte krag van steenkoolvelde in Botswana en noord van Lephalale suid dra na ‘n beoogde kragstasie by Potchefstroom.
Dit is onseker of die ses kraglyne twee-twee in drie korridors van ongeveer 160m elk of in ‘n enkele korridor van minstens 500m opgerig sal word.
Meeste van die klagtes van belanghebbendes het gewentel om eko-ontwikkelings rondom Thabazimbi, wat negatief geraak sal word, visuele belemmering van die bosveld-omgewing, logistiese probleme rondom besproeiing van landerye en roofvoëls wat in kragdrade vasvlieg.
Volgens ontwikkelaars by die vergadering sal die oprigting van kraglyne verder wes, nader aan die Botswana grens, ‘n meer aanvaarbare opsie wees, aangesien daardie gebied droër en minder aantreklik is.
Die verslag oor die beoogde kraglyne is ter insae by die biblioteek.