General

Vals berig van plaasaanval

Op Sondag 27 April 2008 om ongeveer 15:00 het ‘n boer in die Makoppa omgewing ‘n boodskap aan familielede gestuur waarin hulle verwittig is dat hy aangeval word op sy plaas. Sy familie het blykbaar onmiddellik die Suid-Afrikaanse Polisie in kennis gestel van die aanval. Die polisie het die boodskap oorgedra aan ‘n verteenwoordiger van die Thabazimbi Landbou Unie.
Lede van die georganiseerde landbou het hulle onmiddellik, toe die boodskap ontvang is, begin mobiliseer om al die paaie wat as ontsnaproetes kan dien, te versper. Kort hierna is dit vasgestel dat dit ‘n vals alarm was en dat geen plaasaanval plaasgevind het nie. Op hierdie stadium was daar reeds ‘n hele aantal polisievoertuie op pad na die plaas om hulp te verleen vanaf verskeie polisiestasies.
Die Thabazimbi Distrikslandbou Unie (TDU) wil hom langs hierdie weg in geen onduidelike taal van die persoon se optrede distansieer. Plaasaanvalle en gepaardgaande lewensverlies, trauma en emosionele gevolge tesame met die hoë kostes en ongerief wat dit meebring, is ‘n realiteit waarmee elke plaasbewoner daagliks saamleef. Om dit as ‘n grap op te dis, is om die minste te sê, laakbaar en weerspieel ‘n verwronge humorsin waarmee die boeregemeenskap hom nie kan vereenselwig nie. Die TDU verkies om die voorval as ‘n geïsoleerde gebeurtenis te sien wat in ‘n oomblik van onverantwoordelik onbesonnenheid beplan en uitgevoer is sonder om die gevolge in ag te neem.
In ag genome die gevolge van vals alarms op ander terreine in die verlede wil die TDU die hoop uitspreek dat die owerhede gepaste optrede teen die persoon sal instel. Hierin kan daar op die steun van die TDU gereken word.
Graag wil ons as ‘n organisasie van hierdie geleentheid gebruik maak om ‘n lansie vir die SAPD te breek. Enersyds het bevelvoerders in ‘n baie kort tyd beamptes van omliggende polisiestasies mobiliseer en andersyds verdien die flink en professionele optrede van die beamptes groot lof.
Ons dank ook die lede van die landbou unie wat nie geskroom het om ondersteuning aan te bied nie.

Jan Viljoen
Voorsitter, Thabazimbi Distrikslandbou Unie