Business

Thabazimbi Motors onder nuwe bestuur

THABAZIMBI – Thabazimbi Motors, op die hoek van Hamerkop- en Jakarandastraat, se aandeelhouding het verander en ‘n nuwe bestuurder, Gert Snyman, is aangestel. Gert, ‘n gebore en getoë Thabazimbiër, is na vele jare  terug in sy tuisdorp, na ‘n loopbaan in die weermag en as werktuigkundige in die private sektor. Hy is getroud met Esther en hulle het twee seuns.
Hy het sy loopbaan begin in die Suid Afrikaanse Weermag (SANW), waar hy deel was van die SANW se voertuig-evaluasiespan. Hy het homself as ‘n Tegniese Offisier gekwalifiseer. In 1998 verlaat hy die SANW as Werkplaas Offisier en Tweede In Bevel van Kommandement Natal Werkplaas.
Hierna vestig hy hom in die voormalige Transkei, in die dorp Mthatha (die ou Umtata) waar hy sy eie werkswinkel vir die herstel van alle tipe voertuie en vragmotors open. In 2000 het hy die Toyota Agentskap in Mthatha bekom, maar verkoop dit in 2005 en vestig hom in Ellisras waar hy begin boer het. Hy begin egter gou terugverlang na die motorbedryf en in 2007 begin hy werk by Mogol Motors in Ellisras.
Kort daarna, in April 2008, begin hy tussen Thabazimbi en Ellisras te reis in die aanloop tot die oorname van Thabazimbi Motors. Sedert 5 Mei is Gert Handels-hoof by Thabazimbi Motors. Hy sê hy sien uit daarna om ‘n diens te lewer aan Thabazimbi se inwoners en die omliggende gemeenskappe. Hy nooi alle inwoners uit om Thabazimbi Motors te besoek vir goeie diens.