SanParks vereer werkers wat die ekstra myl geloop het
THABAZIMBI – SanPark, Noordelike streek, het Vrydag 18 April hul jaarlikse toekenningsfunksie by die Marakele Nasionale Park net buite Thabazimbi aangebied. Tydens die geleentheid is werknemers wat bereid was om daardie ekstra myl te loop vir hul moeite vereer.
Die Noordelike Streek bestaan uit Marakele, Mapungubwe, Golden Gate en Groenkloof (Hoofkantoor). Sowat 200 gaste het die geleentheid, waartydens sewentien meriete toekennings gedoen is, bygewoon. Die onthaal is in ‘n markies-tent by die hek gedoen, en nieteenstaande ‘n paar kragonderbrekings, is ‘n uitstekende maaltyd voorgesit.
Die aankondigings van die meriete toekennings is deur die Noordelike streek direkteur, mnr Matsima Magakgala, bygestaan deur mnr Glenn Phillips, Direkteur toerisme en ontwikkeling (SanParks) gedoen. Mrs India South Africa, eregas, het gehelp met die oorhandiging van die meriete sertifikate.
Golden Gate is as die park van die jaar aangewys. Nieteenstaande die uitdagings wat die park in die gesig gestaar het, het dit deurentyd op alle gebiede, van begroting-bestuur tot toerisme aktiwiteite bly presteer. Hierdie insette het verseker dat hulle die etos van ware bewaarders ten volle uitgeleef het.
Marakele Nasionale Park het goed gevaar deur vyf van hierdie top–toekennings te ontvang. Hieronder was ‘n meriete toekenning vir die Beste Hek. Dit is toegeken op grond van die netheid, vriendelike ontvangs en algehele diens aan toeriste en behulpsaamheid met besoekers.
Me Assi van Staden, van Marakele, het ‘n meriete toekenning ontvang vir haar uitstaande bydrae om te verseker dat die administrasie en menslikehulpbronne aspek van die park gladweg verloop. Sy het ook, sonder dat dit van haar verwag word, uit haar pad gegaan om ander parke in die streek ook hiermee by te staan.
Samora Mataboge van Marakele ontvang ‘n meriete toekenning vir sy bereidwilligheid om pligte te vervul wat nie noodwendig van hom verwag word nie en altyd streef om daardie ekstra myl te gaan.
Happy Nhlangwini van Marakele het ‘n meriete toekenning vir sy uitstaande pogings om goeie mense verhoudinge en bewaring in Marakele te verseker asook die volgehoue ekstra myl wat hy loop om dit te bewerkstellig.
‘n Meriete sertifikaat is ook aan Marakele se Molapofifi seksie toegeken vir algehele verbetering en uitstaande diens, om nie net te verseker dat al die mikpunte bereik word nie, maar selfs oortref is.