General

Reënweer laat 4×4’s in modder karwoel

THABAZIMBI – Dit het gegons, gedreun en toe gereën – so kan 2008 se 4×4 modderritte wat op Saterdag 3 Mei tydens die Expo aangebied is, beskryf word.
Vanjaar was ‘n besonderse droë najaar en daar moes water by die gallonne gegooi word om gestand te doen aan die naam “Modderritte”, maar ten spyte daarvan was dit sekerlik die droogste kompetisie die afgelope vier jaar, dis nou modder gewys. Die modderritte was vanjaar weereens suksesvol. ‘n Totaal van 36 voertuie het ingeskryf en almal het die rit voltooi. Alhoewel sommige voertuie ongelukkig redelik kruppel was na die dag, was daar geen beserings.
Die terugvoer van die deelnemers en toeskouers was baie positief, met nagenoeg 2000 toeskouers, wat feitlik permanent op hul voete was soos hul die deelnemers toegejuig en aangemoedig het.
Pryse ter waarde van duisende rande was in elke afdeling op die spel.
Die uitslae was:
In die vroue-afdeling wen Yolanda Espag van Gauteng.
Mans afdeling – langwielbasis: J du Plooy van Limpopo stap weg as wenner gevolg deur Henk Groenewald van Hekpoort in die tweedeplek en Jaco Booysen van Thabazimbi in die derdeplek. Kortwielbasis: Neels Hennop van Marken wen hierdie afdeling met Riaan Meyer van Thabazimbi kort op sy hakke en Jannie Eveleigh van Brits in die derdeplek. In die “Modifieds” afdeling wen Jors Grobler van Brits, Hennie Pretorius van Randfontein in die tweedeplek en Louis van Tonder van Marken in die derdeplek.
Die algehele wenner was Shaun Kruger van Gauteng wat weggestap het met twee bande en ‘n Hi Lifting domkrag ter waarde van byna R4000.
Die organiseerders wil graag die deelnemers, toeskouers en borge bedank vir hulle volgehoue ondersteuning. ‘n Dag soos hierdie kan nie suksesvol wees sonder hul betrokkenheid en ondersteuning nie, ‘n spesiale woord van dank gaan aan die hoofborg van die dag, Tyre Corporation asook Oppikoppi Promotions, by name Tanya Veldman, vir ‘n kokende Expo.