Business

Nóg Eskomlyne in die vooruitsig

THABAZIMBI –  Belanghebbendes word uitgenooi na vergadering oor die voorgenome oprigting van ‘n 45km 132kV Eskom-kraglyn vanaf Thabazimbi-dorp, Zimthabi-langs tot by die Rooiberg-pad. Die vergadering vind plaas op Donderdag 22  Mei om 17:00 in die bioskoopsaal in Thabazimbi.
Onvoldoende kragvoorsiening in die bogenoemde area en Rooiberg het die aanvraag vir ‘n kraglyn voorafgegaan. Die lyn wat waarskynlik pad langs sal loop van Thabazimbi, verby Marakele Nasionale Park (Kwaggasvlakte), al met die Alma-pad langs tot by die Rooiberg-afdraai vir sowat 8 km, is aanvanklik deur die Thabazimbi Munisipaliteit aangevra. Daar word geskat dat sowat elf plase deur die oprigting van die lyne geraak sal word.
Buiten die kraglyne word twee substasies en twee 36m hoë kommunikasietorings in elke substasie opgerig. Die substasie, Kruispad, word op die plaas Boschfontein (445KQ) opgerig, en die Simthabi substasie word op die plaas Koppieskraal (464KQ) opgerig.
Soos in die geval van enige ontwikkeling moet ‘n Omgewings Impakstudie, soos voorgeskryf deur die Departement van Omgewingsake, gedoen word voordat enige ontwikkeling, in hierdie geval die oprigting van kraglyne, plaasvind. Publieke deelname maak deel uit van hierdie proses.
Die ongeveer 45km-lang kraglyn sal op paalstrukture van ongeveer 21 – 24 m hoog monteer word met afstande van ongeveer 200m tussen pale. Die servituut vir die lyn is 31m breed.
Volgens die inligtingstuk wat Eskom beskikbaar gestel het, word gehoop dat alle belanghebbendes by die vergadering verteenwoordig sal wees. Dit sluit in regeringsowerhede, besighede en industrieë, landbou-organisasies, toerisme-owerhede, omgewingsorganisasies en natuurlik grondeienaars.