Agricultural

Marathon saam met die wilde diere van Marakele

THABAZIMBI – ‘n Volle marathon van 42,2km, ‘n halfmarathon en pretdraf word Saterdag 10 Mei in die Marakele Nasionale Park aangebied deur die Thabazimbi Marathonklub. En vir diegene wat “versigtig” is vir die wilde diere, daar sal veldwagters diens doen om drawwers teen die wilde diere te beskerm.
Die wedloop, met Kumba Iron Ore as hoofborg, word aangebied om fondse vir die Marakele Nasionale Park in te samel vir bewaring. ‘n Prys van R1000 word vir die skool aangebied met pro rata die meeste inskrywings. Hierdie wedloop gaan ‘n jaarlikse instelling word en heelwat inskrywings is reeds van die groter klubs ontvang.
Die hele marathon vind plaas in die Marakele Nasionale Park. Nie alleen is dit ‘n pragtige omgewing om in te draf nie, maar dit is ‘n stywe roete, met heelwat op- en afdraendes. Die marathon is ‘n in-en-uitroete en die pretdraf ‘n sirkelroete deur die park. Die marathon is 42,2km, die halfmarathon 21,1km en die pretdraf 5km. Daar is ‘n waterpunt elke 3km.
Enigiemand, nie net klublede nie, kan aan die marathon deelneem. Tydelike nommers vir nie-klublede sal op die dag beskikbaar wees. Tydelike lisensies kan teen R20 die oggend van die marathon bekom word. Inskrywingsfooie is R90 vir die marathon, R50 vir die halfmarathon en R15 vir die pretdraf.
Belangstellendes kan vroeg Saterdagoggend aanmeld by die hoofingang na Marakele. Marathondeelnemers kan reeds 05:00 begin inskryf, hulle spring weg om 06:00. Halfmarathon-deelnemers spring weg om 06:30 en en pretdraf-deelnemers om 07:00.
Kumba borg al die pryse. Alle deelnemers kry medaljes en marathon- en halfmarathondeelnemers kry T-hemde.
Inskrywings kan Saterdagoggend by Marakele gedoen word of deur die volgende persone te skakel, Louis le Grange by 083 401 6189 of Piet van Staden by 073 002 0873,  Zanie van Rensburg by 082 330 7388 en Barend Schlebusch 083 521 9909.