Laerskool Borgdag trek groot veld
THABAZIMBI – Laerskool Dwaalboom se borgdag verlede Saterdag het ‘n groot veld getrek. Daar was pryse in oorvloed en die wenners van die Beterbal kompetisie was Pietie Terblanche en Johan Smit (48). Hendrik van Niekerk en Bokkie Bronkhorst (46), Johan en Nita Barnard (45) .
Nog nege ander pare het in die pryse gedeel. Aangesien daar meer spelers opgedaag het as wat aanvanklik ingeskryf het, het die donker ‘n paar vierballe gevang.
Daar was deur die dag verversings beskikbaar en die aandete was uit die hoogste rakke.
Borgdae hou altyd ‘n groot voordeel vir die begunstigde instansie en die borge in maar kan ook ‘n kopseer wees vir die klub en die komiteelede aan diens. Sommige van die gaste wat opdaag en nie gholfspelers is nie het nie die nodige kennis van die spel en van die reëls nie en kan soms ‘n verleentheid skep. Dit raak ook ‘n frustasie vir die ernstige spelers. Die klub het, soos alle gholfklubs die wêreld oor, streng voorskrifte ten opsigte van kleredrag en die gebruik van gholf toerusting. Borge behoort hulle hiervan te vergewis en hulle gaste daaromtrent in te lig.
Saterdag 17 Mei is dit Liga op Amandelbult. Die dames speel ook hulle liga hier op ons baan wat beteken dat die baan vanaf 08:00 tot 12:30 vir ander spelers gesluit sal wees. Die middag vanaf 12:00 sal daar IPS gespeel word.
Saterdag 24 Mei is dit Thabazimbi Gholfklub se Sanlam Kanker Gholfdag. Spelers moet asseblief hierdie besondere dag ondersteun.
Vrydag 30 Mei het laerskool Koedoeskop ‘n kompetisie op Thabazimbi Gholfklub se baan.
Saterdag 31 Mei is dit ‘n gewone Beterbal. Spelers skryf in pare in.
Pietie Terblanche en Billy Pring speel volgende week in Port Elizabeth in die Sages se Nasionale Kampioenskappe. Sterkte vir julle.