Agricultural

Geskiedkundige eerste vir Marakele

THABAZIMBI – Geskiedenis is die afgelope naweek gemaak met die eerste marathon wat in Marakele Nasionale Park aangebied is. Die 42km marathon is deur Thabazimbi Marathonklub in samewerking met Marakele Nasionale Park aangebied. Die byeenkoms en medaljes is deur Kumba geborg.
Alhoewel dit nie die eerste marathon is wat in ‘n nasionale park aangebied is nie, is dit ‘n eerste vir Marakele en word daar beoog om dit op ‘n gereelde jaarlikse grondslag aan te bied. Die Parkhoof, mnr Fhatuwani Mugwabana het ook genoem dat hy hoop dat hierdie marathon gewild sal raak as ‘n voorloper tot die Comrades Marathon wat jaarliks tussen Durban en Pietermaritzburg gehou word.
Saam met die marathon is ‘n halfmarathon oor 21 km asook ‘n pretdraf oor 5km gehou. Alhoewel die opkoms nie so groot was as wat gehoop was dit sou wees nie, is dit goed deur die plaaslike marathonklub en Magnolia Marathonklub van Pretoria ondersteun. Die klublede wat deelgeneem het sal beslis teruggaan met ‘n storie om te vertel aangaande die wonderlike natuurskoon van Marakele en die boodskap sal beslis uitgaan aan ander klubs om volgende jaar ook deel hiervan te wees.
Al die deelnemers aan die onderskeie wedlope het vanaf die toegangshek weggespring. Die pretdraf-deelnemers het by die tonnel wat toegang tot die oostelike gedeelte van die park verleen omgedraai, terwyl deelnemers aan die 42km marathon se draaipunt in Matlabas Zijn Kloof was.
Veldwagters het die deelnemers begelei aangesien Marakele ‘n “Groot vyf Nasionale Park” is en daar ‘n wesenlike gevaar vir wilde diere bestaan. Dit het egter nie verhoed dat deelnemers aan die marathon die natuurskoon, nieteenstaande die talle opdraendes, kon waardeer nie. Die opmerking is gemaak dat hierdie marathon ‘n baie groter moeilikheidsgraad het as die Comrades, en dit is nie net om vir die wildediere weg te hol nie.
Die eerste man oor die wenstreep in die marathon was Charles Saunders van Thabazimbi Marathonklub in ‘n tyd van 3 uur 52minute. Hy is gevolg deur Kobus van der Merwe, Thabazimbi, in die tweedeplek en Thinus Marais derde, van Magnolia Marathonklub. Die eerste vrou oor die streep was Luzaan Combrink van Arete Marathonklub in Pretoria in ‘n tyd van 4 uur 37 minute. Sy is gevolg deur Herma du Plessis tweede en Theresa Meyer derde , beide van Thabazimbi Marathonklub.
Die halfmarathon oor 21 km is deur Theuns Koloi (Mr Price) gewen in ‘n tyd van 1 uur en 18 minute. Tweede was Johan Vorster en derde Louis le Grange , beide van Thabazimbi Marathonklub. In die dames afdeling was Charlotte Pienaar eerste in ‘n tyd van 1 uur en 57 minute. Tweede was Naomi Silva en derde Dorette Ras.