General

Dis nie maklik om tot siens te sê nie…

THABAZIMBI – Dat dit met ‘n swaar hart is wat Thabazimbiërs ds Gert en Antoinette Kok groet is duidelik.
Ds Gert lewer Sondag sy afskeidspreek en hy en Antoinette vertrek eerskomende Dinsdag na Bergville in Natal. Diegene wat daaroor praat skud net hulle koppe en sê hulle verloor ‘n ma in Antoinette of ‘n “omgee-mens” in ds Gert. Heelparty vee hier onder die oë rond, maar almal is dit eens: om tot siens te sê is nie maklik nie.
Van die aksies wat onder leiding van ds Gert begin of voortgesit is, sluit in die NG Kerk se betrokkenheid by die ATKV, Kansa, Helpende Hande, SAVF, HFM en die Bejaardesorg-vereniging. Onder sy leiding het gemeentelede op gereelde basis pasiënte in beide hospitale besoek vir geestelike ondersteuning, Bybels is verkoop by die taxi-staanplek en sendinguitreike na die buiteland is begin. Hy was betrokke by die munisipaliteit se “Moral Regeneration Movement” en het in die NG Kerk struktureel tot op hoë vlak funksies vervul.
Antoinette het musieklesse gegee na haar onderwysdae en menige kleintjie se lewe aangeraak. Ook dáár is menige seer hart oor die Koks se weggaan.
Die Koks het Thabazimbi toe gekom tien jaar gelede in 1997 met ‘n huis “vol” kinders. Cobus was  aan die einde van  Graad 10, Anita Graad 9, en Chrisma en Hannes was in Graad 6 en 4 onderskeidelik.
Aan die begin van 1998 is Cobus terug na Pietermaritzburg, waar hy sy Gr 11 en matriek voltooi het. Die ander 3 was albei tot in Graad 12 in Hoërskool Frikkie Meyer.
Anita, Chrisma en Hannes was maar bedrywig met dinge soos die Noord-Gauteng Jeugkoor, Frikwensies Revue, en ook hokkie en nogmaals hokkie… Hulle het baie hegte vriende gemaak gedurende hierdie tyd. Al vier die Kok-kinders is nou in Stellenbosch. Cobus het sy eie besigheid (ID Advertising) begin en Anita werk as grafiese ontwerper vir hom. Chrisma en Hannes is nog studente aan die Universiteit van Stellenbosch.
Die hoogtepunt vir die Koks was die eredienste by die afgelope paar jaar se Wildsfeeste. Daar is gedemonstreer dat die gelowiges van Thabazimbi saam die Here wil dien, sê ds Gert. Ook in die breër gemeenskap het hulle wonderlike ervarings gehad. Die mooi gesindhede ná die vloed in 2000 het hulle diep geraak. Hulle is ook dankbaar vir die ekonomiese groei in die gemeenskap. Daar is nie baie dele van Suid-Afrika waar dit so woel soos hier nie, aldus ds Gert.
Hulle was by die skole betrokke en kon só bydra tot die ontwikkeling van die kinders in die gemeenskap. Hulle sê hulle sal altyd die nuus dophou oor die prestasies van Thabazimbi se jongmense.
Volgens ds Gert was dit ‘n voorreg om deel te wees van die gemeenskap van gelowiges in die Thabazimbi distrik. Hulle is dankbaar teenoor elkeen wat hul geloof help bou het. Hulle is oneindig dankbaar vir die groei wat plaasgevind het in die NG Gemeente Thabazimbi. Volgens ds Gert hou die Here Sy kerk en Sy kinders in stand – daaroor twyfel hy nie.
Antoinette sê hulle glo dat die Here ‘n spesiale pad met hulle loop en dat Hy ‘n groter doel het waarom Hy hulle terugstuur Natal toe. Bergville is ‘n ou klein dorpie en sou beslis nie hul keuse van ‘n blyplek gewees het nie. Alhoewel die omgewing baie mooi is, is daar maar heelwat dinge waarby hulle sal moet aanpas. Hulle glo egter dat hulle soontoe gestuur word met ‘n doel.
Maar dit is nie maklik om tot siens te sê aan die mense van die Bosveld nie. In die meer as tien jaar dat hulle hier gewoon en gewerk het, het hulle vasgegroei aan die streek en sy mense. Destyds toe hulle hier aanland was dit ‘n totaal vreemde wêreld. Nou is dit deel van hul hart, sê die Koks.
Hulle sal terugverlang  na die blou visvangertjie wat altyd op die wasgoeddraad kom sit het, die lekker loom aande om ‘n sekelbosvuur, die nagapies wat skemertyd skugter hul verskyning maak, en die reuse ou hardekoolboom voor in hul tuin. Hulle sal verlang na die mooi bosveldbome, die Kransberge, mooi sonsondergange en apiesdoringbome.
En natuurlik sal hulle terugverlang na hul gemeente en baie goeie vriende wat hul oor die afgelope 10 jaar gemaak het. Gelukkig weet hulle dat goeie vriende altyd goeie vriende bly, ten spyte van afstand, sê hulle. Antoinette sê sy groet met die woorde waarmee die vrouens van die NG Gemeente haar gegroet het: “Vriendskap is ‘n aangename geur wat die beeld van blomme en vreugde op ‘n donker dag optower. Ons moet nooit toelaat dat daar gras begin groei op die pad van ons vriendskap nie.”
Hulle nooi ook almal wat op pad see toe is vir ‘n koppie koffie. Die ooreenkoms is: een koppie koffie vir een bondeltjie sekelbos!