Diewe bly doenig in Thaba
THABAZIMBI – Dat diewe hul huis gedurende die nag besoek en besteel het was nuus vir Netta van der Ryst toe sy gisteroggend, Donderdag 8 Mei, wakker word.
Die polisie is van die diefstal in kennis gestel toe naby bure van die Van der Rysts twee handsakke van Netta op die sypaadjie naby hul huis opgetel het. ‘n Identiteitsdokument het die eienaar van die handsakke as Netta van der Ryst aangedui en daarvandaan moes die onbewuste slagoffers van die diefstal in kennis gestel word.
Teen Donderdagoggend was die Van der Rysts slegs bewus van drie gesteelde items, naamlik die afstandsbeheertoestelle van die televisie en dekodeerder, twee selfone en twee handsakke. Die selfone was op die bedkassie langs Netta se bed en die twee handsakke het agter die kamerdeur gehang. Die rede waarom die televisiestel en dekodeerder nie gesteel is nie, is onbekend.
Die diewe het toegang tot die huis verkry deur die diefwering ten volle af te forseer.
Dit was die tweede diefstal wat gedurende Woensdagnag-Donderdagoggend plaasgevind het. Volgens die speurder aan diens, sal hul nou nagdiensskofte werk om die diewe te probeer vasstrek. Teen druktyd was niemand nog in hegtenis geneem nie; die saak word ondersoek.