General

Boere mag boer, beslis hof

Elana Greyling

Grondeise hang sedert 1994 soos die spreekwoordelike swaard bo boere se koppe.
Die effek van ‘n dreigende grondeis, en nog erger, ‘n eis wat toegestaan is, is verlammend. Dit is ‘n feit dat florerende boerderybesighede al bankrot gespeel het in die lang wag vir finaliteit.
Die Grondeise hof het egter onlangs ‘n baie beduidende uitspraak gegee wat weliswaar vir boere die groenlig gee om aan te hou boer. Die saak in die Grondeise hof naby Kaapstad beloof om groot impak op grondeise regdeur die land te hê.
Die hof het in die Macassersaak beslis dat die belang van persone wat reeds met ekonomiese aktiwiteite op ‘n plaas besig is, nie kan wag dat grondeise afgehandel word nie. In hierdie saak was die MacSand maatskappy besig om sand te myn op ‘n plaas waarop daar ‘n grondeis hangende was. Die Macasser grondeisekomitee het beswaar gemaak teen die voortgesette mynaktiwiteite, omdat hulle gevoel het die sand is ook hulle s’n.
Die Appelhof het drie jaar gelede beslis dat die maatskappy op gedeeltes mag aangaan met hulle aktiwiteite. Die gedeeltes waarvoor hulle toestemming ontvang het, was reeds uitgemyn voor die grondeisesaak afgehandel is. MacSand het weer die saak by die Grondeise hof ingedien om aan te gaan met mynbedrywighede op die res van die eiendom.
Die Hof het bepaal dat hulle mag voortgaan. Dit geld vir enige ekonomiese bedrywighede op ‘n plaas waarop daar ‘n grondeis is, in gevalle waar die grondeis nog hangende is  en selfs in gevalle waar dit toegestaan is, maar nog nie afgehandel is nie. In laasgenoemde gevalle moet bepaal word of die grond aan eisers gegee sal word en of daar bloot vergoeding uitbetaal mag word.
Eisers het egter nou teen hierdie bevel beswaar gemaak en die saak is verwys na Hoofregter Pius Langa van die Konstitusionele hof om die finale antwoord te gee. Die brandende vraag wat beantwoord moet word, is: “Wie se belange weeg die swaarste, die gemeenskap, of die sakeman, instansie of boer wat reeds met ekonomiese aktiwietie  op die grond besig is?
Mnr Faan Coetzee van Hoffmeyer Prokureurs in Sandton het onlangs gesê dat hierdie hofbevel by die grondeise hof uiters belangirk is vir boerderye waar grondeise hangende  is. Volgens hom mag boere of grondeienaars nie groot ontwikkelings op geëisde plase doen nie omdat dit die vasgestelde prys kan beinvloed. In die meeste gevalle kry ‘n ontwikkelaar nooit werklik die kostes terug in die verkoopprys of kompensasie nie. Wat wel belangrik is, is die feit dat boere die reg het om aan te hou boer tot op die dag dat die eis finaal afgehandel is en beslis is of die plaas aan die eisers oorgegee gaan word of kompensasie uitbetaal sal word. Die hofuitspraak is veral insiggewend vir dele waar daar omvattende eise is, soos in die Limpopo provinsie.
Dr Theo de Jager, president van Agri Limpopo, glo dit is die eerste keer in agt jaar, nadat hierdie provinsie se landbou ekonomie al skade gelei het, dat gesonde verstand gekoppel aan gesonde regsbeginsels die oorhand begin kry in grondeise proses. Vandag se moderne kommersiële boere in Suid-Afrika en in Limpopo het geen beswaar teen grondhervorming of restitusie nie, maar wel teen die manier waarop dit toegepas word en die ontwrigting van die landelike ekonomie is onvergeeflik.
Volgens De Jager trek Landbou in Limpopo swaar aan administratiewe rompslomp en onnodige gesloer, soos in die Moketsisaak wat vir tot sewe jaar al sloer. “Dis sleutelbelangrik dat hierdie uitspraak ook onder die neuse van Limpopo amptenare ge vryf word,” se hy.