Opvoeding oor jagluiperds deur DE WILDT by Expo
“Verwoeste geboue kan weer opgebou word, beskadigde kunswerke kan miskien vervang word deur nuwes, maar elke dier en blom wat uitsterf, is vir ewig verlore in die mees onomkeerbare sin.” (Aanhaling deur Joseph Wood Krutch)
Me Marilyn Hull en die jagluiperd, Byron, sal die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo besoek van 1 tot 3 Mei. Die publiek het dus nou die geleentheid om vir slegs R20 elk meer van die DE WILDT Cheetah and Wildlife Trust te leer. Byron sal ook moontlik gesien kan word solank die omstandighede na wense is, met ander woorde hy moet rustig en veilig, en nie bedreigd nie, voel.
Soos almal weet is die jagluiperd die vinnigste dier op land, wat ‘n spoed van soveel as 120km/uur kan haal. Hoewel dit baie vinniger as ‘n mens kan hardloop, is die jagluiperd vinnig besig om sy wedloop teen uitwissing te verloor.
Die Uitreik Opvoedkundige Program van DE WILDT Cheetah and Wildlife Trust is in 2003 begin met die doel om mense bewus te maak en op te voed oor die uitdagings wat jagluiperds in Suid-Afrika in die gesig staar. ‘n Ten volle afgerigte ambassadeur, genaamd Byron, vergesel sy hanteerder en aanbieder van die kursus, Marilyn Hull, gedurende hierdie opvoedkundige besoeke.
Die aanbiedings vind plaas op die 1ste en 2de Mei om 14:00 en op die 3de Mei om 13:00. Kaartjies kan gekoop word op die dag van die aanbieding by die ingang na die markiestent op die terrein. ‘n Maksimum van 100 mense sal by elke aanbieding toegelaat word. Maak dus seker dat u betyds opdaag om ‘n kaartjie te kry en meer te leer van hierdie ongelooflike diere.
Genoeg gesê, kom kyk maar hoe besoekers hul asem verwonderd intrek wanneer Byron, kop omhoog, ‘n vertrek vol mense binnestap, gefokus en trots.